Regering 'ten gunste van vrye media' – Manyi
2011-07-25 18:59
Johannesburg – Die regering is ten gunste van ‘n vrye media sonder mandate van opposisiepartye en kommersiële belange, het Jimmy Manyi, regeringswoordvoerder, Maandag gesê.
Manyi, wat die hoof van die regering se kommunikasiediens (GCIS) is, het gesê: “Hierdie regering is ten gunste van ‘n vrye media. Dit is ‘n grondwetlike vereiste. Maar die media moet sy vryheid verstaan. Dit moet vry wees van ander belange.”
Die media kan nie ‘n “gelastigde vir ander belanghebbers” wees nie en as dit wil wees, het die regering ‘n groot genoeg meerderheid om die wet op die beskerming van inligting goed te keur sonder om deur opposisiepartye verhinder te word, het Manyi gesê.
Hy het gesê hy is bemoedig deur die “robuustheid van besprekings” rondom die voorgestelde wetgewing.
Gevra of hy dink daar is enige media wat vry van beïnvloeding is, het hy gesê: “Dit is vir jou om daardie besluit te maak. Ons wil nie dit doen nie.”
Hy het gesê die regering sal graag ‘n meer diverse media wil sien.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA