Regering swyg steeds oor visum
2011-10-12 07:06
Kaapstad. – Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) eis steeds ’n verduideliking van die regering oor sy gesloer met die uitreiking van ’n visum aan die Dalai Lama.
“Ons het nog nie ’n woord van die regering gehoor nie,” het die kommissie se adjunkvoorsitter, Pregs Govender, Dinsdag gesê.
“Ons sal die kwessie verder voer, aangesien dit op ’n klomp goed dui wat die regering veronderstel is om te wees. Dit sluit in dat hy deursigtig, verantwoordbaar en die handhawer van menseregte moet wees.”
Die MRK het Dinsdag ’n voorlegging oor sy jongste jaarverslag aan die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en grondwetlike ontwikkeling gedoen.
Die Dalai Lama het verlede week sy besoek aan Suid-Afrika as eregas by emeritus-aartsbiskop dr. Desmond Tutu se 80ste verjaardagviering afstel nadat die regering nie betyds ’n visum aan hom toegestaan het nie.
Die MRK het kort ná die aankondiging deur die Dalai Lama dat hy sy beplande besoek afgestel het, ’n verklaring uitgereik waarin hy kommer uitspreek oor die “onverklaarbare” vertragings.
“Die regering het ’n grondwetlike plig om redes vir sy optrede te verskaf.
“Sou hy versuim om sy hantering van die kwessie te verduidelik, wek dit ernstige kommer oor die diskriminerende aanwending van sy magte en ’n gebrek aan toewyding tot deursigtigheid en vryheid van spraak in ons land.”
“Waarom kon die visum vir ’n bekende figuur wat hoog deur die internasionale gemeenskap geag word en geen veiligheidsbedreiging inhou nie, nie bespoedig word nie?” het die MRK se verklaring gelui.
Die MRK hoop die regering sal openbare vertroue in hom herstel deur redes te verskaf.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger