Regering sensor verslag
2010-08-23 08:14
Kaapstad. – Die Wetsontwerp op die Beskerming van Inligting is nog nie eens in die wetboek nie, maar sensitiewe inligting word reeds “soos in die apartheidstyd” gesensor.
So het mnr. Mike Waters, DA-LP en -woordvoerder oor gesondheid, gesê nadat ’n verslag deur die Staatsdienskommissie (SDK) oor die geskiktheid van die hoof van die omstrede Frere- en Cecilia Makiwane-hospitaal in die Oos-Kaap kwaai gesensor is.
Waters het eers ná ’n hofaansoek op grond van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) toegang tot die verslag verkry.
Die SDK se ondersoek is in 2007 aangevra toe vrae geopper is oor mnr. Luvuyo Mosana se geskiktheid om dié twee hospitale te bestuur.
Dit het gevolg op onthullings dat meer as 2000 babas in 14 jaar – en 200 net in daardie jaar – in dié hospitale doodgebore is.
Dit het tot nasionale woede en ’n twis in die regering van die destydse president, mnr. Thabo Mbeki, gelei. Mosana werk steeds as hoof van die hospitale.
Die gesensorde paragrawe handel oor Mosana se kwalifikasies in verhouding tot die pligte wat hy as hospitaalbestuurder het.
In die verslag word beweer hy is geskik vir dié pos, wat vereis dat die kandidaat relevante nagraadse kwalifikasies in finansiële bestuur of ekonomie moet hê.
Volgens Waters se inligting het Mosana slegs kwalifikasies in politieke wetenskap en ervaring as stadsraadslid in Oos-Londen.
Sy ware kwalifikasies is steeds onduidelik omdat die paragrawe wat dít uiteensit, gesensor is.
Die verslag lui die aanstellingskomitee het bevind Mosana is die geskiktste kandidaat, hoewel die samestelling van die kortlys van kandidate ook gesensor is.
Volgens die SDK is die gesen- sorde dele persoonlike inligting en die bekendmaking daarvan sal “onredelik” wees.
Waters meen dié verduideliking is sinloos omdat die kwalifikasies van ’n hospitaalbestuurder direk verband hou met so ’n persoon se vermoë om ’n hospitaal behoorlik te bestuur.
“Die verslag is belangrik omdat dit aan die hart lê van vrae oor die ontstellende getal babas wat in die Oos-Kaap doodgebore word,” het Waters gesê.
“Ek verstaan ook nie waarom inligting oor ’n persoon wat ’n openbare pos beklee het, ‘persoonlik’ is nie.
Mosana is inderwaarheid aangestel as ’n senior- staatsamptenaar wat belastingbetalersgeld gebruik om sy plig teenoor die publiek na te kom.”
Hoewel die kwessie wat betref die sogenaamde Frere-babas ontstellend is, wek die sensuur van die verslag vrese oor wat kom as die parlement die inligtingswet goedkeur, meen Waters.
“Wat hierdie situasie wys, is dat die grondwetlike beginsels van vryheid van spraak en deursigtigheid al geruime tyd bedreig word.
“Al wat die wetsontwerp gedoen het, is om vorm te gee aan die ANC se afkeer van toesig en verantwoordbaarheid,” het Waters bygevoeg.
Hy gaan die SDK se voorsitter, dr. Ralph Mgijima, vra om die ongesensorde verslag bekend te maak.
- Beeld