Regering sal met 11-jarige se begrafnis help
2012-10-31 18:08
Johannesburg – Die regering sal 'n familie van Soweto met hul elfjarige dogter, wat tydens 'n polisie-jaagtog doodgeskiet is, se begrafnis help, het die departement vir gemeenskapsveiligheid Woensdag gesê.
"Die bystand sal nie by die begrafnisreëlings eindig nie, maar met enige ander moontlike reëlings insluitende om die familie op hoogte te hou van die ondersoek," het Faith Mazibuko, LUR vir gemeenskapsveiligheid, gesê
Die dogtertjie is verlede Maandag deur 'n koeël getref terwyl die polisie 'n verdagte in Braamfisherville agternagesit het.
Die man het gedreig om sy vriendin en haar ma dood te maak en het die vensters van sy vriendin se huis beskadig.
Lt-Kol Lungelo Dlamini het gesê die vrou het haar kêrel se huis aan die polisie uitgewys.
"Terwyl die polisie besig was om die huis te nader, het die verdagte sy hond losgelaat en oor 'n muur gespring," het Dlamini gesê.
"'n Polisiebeampte het twee skote afgevuur toe die man skielik 'n vuurwapen te voorskyn gebring het. Die kind, wat daar naby gespeel het, is getref en het op die toneel beswyk."
Die verdagte kon daarin slaag om te ontsnap.
Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) sê die saak word ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA