Regering sal landbou nie help met kragpryse
2010-02-26 07:05
Lizel Steenkamp
Kaapstad - Kommersiële boere kan nie op regeringshulp reken om die hoër kragpryse te oorleef nie.
Dipuo Peters, minister van energie, het Donderdag gesê subsidies aan die formele landbousektor word nie nou oorweeg nie en sou dit later gebeur, moet die regering eers vasstel of daar geld is.
Peters het die parlementêre perskorps toegespreek oor die verhogings wat die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) Woensdag aangekondig het. Haar antwoorde op vrae was onsamehangend en dikwels onverstaanbaar.
Op ’n vraag of die regering kommersiële boere gaan help, het Peters gesê verskeie interministeriële komitees en werkgroepe moet eers die invloed bespreek wat dié verhogings op intensiewe kragverbruikers – soos boere – gaan hê.
Werkgroepe sal daarna voorstelle aan die kabinet voorlê.
“En sou subsidies een van die voorstelle wees, sal daar ’n besluit geneem word na gelang van die beskikbare (finansiële) hulpbronne.”
Peters kon nie sê hoe lank dié proses gaan neem nie, ook nie wat boere moet doen om te oorleef terwyl die regering planne beraam nie.
Intussen het die departement van landbou, bosbou en visserye bevestig hy gaan met kommersiële boere vergader.
Die meerderheid kommersiële boere koop hul elektrisiteit van Eskom en sal van 1 April af gemiddeld 24,8% meer betaal.
Volgens Charles Hlebela, woordvoerder van Nersa, moet Eskom sy voorgestelde tariefstruktuur vir kommersiële kragverbruikers teen 1 Maart aan Nersa voorlê.
Dié struktuur is gekoppel aan kragverbruik en sal eindelik bepaal presies hoe hoog die kragverhoging vir elke individuele boer sal wees.
Prof. Johan Willemse, ’n landbou-ekonoom verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat, het Donderdag gewaarsku sekere kommersiële boere sal moet “herstruktureer en afskaal” om te kan oorleef.
- Die Burger