Regering reageer om ramp te verhoed
2010-08-25 00:16
Pretoria – Die departement van waterwese het vertroue dat ‘n nuwe pompstasie betyds opgerig sal word om ‘n reuse-omgewingskrisis wat in die groter Witwatersrand-gebied dreig, te keer.
Daar is vroeër hierdie maand berig dat omgewingskundiges al sedert 2008 waarsku dat suur water in die ou en ongebruikte myne van die Witwatersrand vinnig na die oppervlak styg.
Dit kan glo die grootste omgewingsramp tot nog toe in Suid-Afrika veroorsaak as daar nie vinnig ’n plan gemaak word om die water uit te pomp nie.
“As niks aan die situasie gedoen word nie sal die water binne die volgende 17 maande begin uitborrel,” het Marius Keet, adjunk-uitvoerende direkteur van waterwese gesê.
Volgens Keet kan die ramp verhoed word deur ‘n nuwe pompstasie op te rig. Dit sal glo 13 maande neem en as die regering nou wegspring met die projek sal dit net betyds klaar wees om die ramp te verhoed.
Volgens Nobubele Ngele, waarnemende direkteur-generaal van waterwese en omgewings, is die regering seker dat die pompstasie betyds opgerig sal word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA