Regering onttrek geld vir vigsentstof-inisiatief
2009-08-03 06:43
Alicestine October
Kaapstad- Jare en miljoene rande se MIV- en ander entstof-navorsing dreig om ineen te stort omdat die regering geld aan die Suid-Afrikaanse Vigsentstof-inisiatief (Saavi) onttrek het, het wetenskaplikes gewaarsku.
Dit volg nadat Statistieke Suid-Afrika verlede week aangekondig het tot 413?000 nuwe MIV-infeksies kan in 2009 in Suid-Afrika verwag word.
Altesame een uit elke vyf volwasse Suid-Afrikaners is MIV-positief en sowat 600?000 het teen 2008 vigsbehandeling ontvang.
MIV/vigsnavorsers het op die Internasionale Vigsvereniging se vigskonferensie onlangs in Kaapstad wéér beklemtoon dat die mensdom nie sy weg uit die MIV/vigspandemie met vigsbehandeling gaan regdokter nie, maar ’n entstof is dringend nodig.
Die departement van wetenskap en tegnologie het reeds besluit om geld wat vir die Saavi-program begroot is, eerder in sy Sharp-projek te stort, waardeur basiese wetenskappe en produk-ontwikkeling gefinansier word.
Mnr. Lunga Ngqengelele, woordvoerder, kon nie gister sê hoeveel geld dit is nie.
“Saavi het nie die geld gebruik nie en het nie aan sekere vereistes voldoen nie,” het hy gesê.
Prof. Glenda Gray, direkteur van die nasionale MIV-navorsingseenheid, het gesê Suid-Afrika het reeds ’n belangrike mylpaal gehaal toe twee MIV-entstowwe wat plaaslik ontwikkel is en die eerste kliniese toetsfase bereik het, onlangs bekend gestel is.
Gray het gesê die toekoms vir die verdere ontwikkeling van die entstowwe is onseker ná die eerste fase.
Sy glo egter internasionale finansiering sal nie ’n probleem wees nie.
Tot R250?miljoen is reeds bestee aan die ontwikkeling van die twee entstowwe wat steeds met Amerikaanse geldhulp vir eers kan voortgaan.
Sy het gesê verskeie navorsingseenhede moes reeds hul bedrywighede opskort weens geldtekorte.
–Die Burger