Regering 'moet help met honde'
2011-07-20 18:13
Johannesburg – Meer ondersteuning van die plaaslike regering is nodig om probleme te takel wat met wilde honde verband hou, het die Kaap van Goeie Hoop-DBV Woensdag gesê.
“Ons benodig groter toewyding van die owerhede om ons te help met die probleem van troeteldier-oorbevolking,” het Sarah Scarth, woordvoerder, gesê.
Die gevare van honde-oorbevolking het landwyd opslae gemaak toe ‘n tweejarige seun verlede maand in Sweet Home Farm in Philippi, Kaapstad, deur honde doodgebyt is.
Volgens Scarth het lede van die gemeenskap ná die voorval gedreig om al die honde in die nedersetting dood te maak en is ‘n verskeidenheid sake van dieremishandeling sedertdien aangemeld.
Die Kaap van Goeie Hoop-DBV het inwoners gevra om eerder die honde wat hulle nie wil hê nie, oor te handig sodat hulle uitgesit kan word.
Negentig persent van die 200 honde wat bymekaargekry is, is uitgesit. Slegs enkeles was gesond genoeg om te rehabiliteer.
“Ons primêre rol was om wreedheid teenoor diere te voorkom deur die honde uit hierdie omstandighede te haal,” het Scarth gesê.
“Sweet Home Farm is ‘n baie arm gebied. Baie van die honde het aan wanvoeding en ander siektes gely.”
Heelwat inwoners kon nie bekostig om hul honde te laat steriliseer nie. Die onbeheerde teling wat gevolg het, het daartoe gelei dat baie honde op straat was.
Scarth het gesê diereregtegroepe doen ‘n beroep op die Stad Kaapstad vir meer befondsing om bestaande mobiele veeartsdienste, insluitende sterilisering, uit te brei.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA