Regering misluk nie, sê minister
2009-12-15 06:27
Liesl Peyper
Kaapstad-Geoff Doidge, minister van openbare werke, het heftig ontken dat hy die naweek sou gesê het die regering het misluk om ’n halfmiljoen werkgeleenthede teen Desember te skep.
Doidge het gister opnuut gesê dié doelwit, wat pres. Jacob Zuma in Junie vanjaar in sy staatsrede gestel het, is volgens hom steeds haalbaar.
Volgens Koketso Sachane, Doidge se woordvoerder, is mediaberigte wat aanvoer dat die 500 000 werkgeleenthede nie verwesenlik gaan word nie, foutief.
“Wat die minister wel gesê het, is dat hy die sowat 200 munisipaliteite wat nie behoorlik oor hul werkskepping verslag doen nie, gaan vasvat.”
Die regering het van April tot Junie net sowat 16% van sy werkskeppingsdoelwit behaal, maar in ’n tydperk van twee maande tot einde Augustus is nagenoeg 140 000 bykomende werkgeleenthede geskep.
Doidge het by elke verslagdoeningsgeleentheid volgehou dat die regering op koers is om sy teiken van 500 000 te haal, ofskoon selfs pres. Jacob Zuma onlangs gesê het dit blyk onwaarskynlik te wees.
Sachane het gister gesê die departement van openbare werke sal geen aankondigings oor werkskeppingsyfers doen alvorens die data behoorlik geverifieer is nie. Dit sal na verwagting teen middel Januarie wees. “Dit sal onbillik wees om enige gevolgtrekkings oor die syfer te maak voor dan.”
- Die Burger