Regering kort nog 300 000+ vingerafdrukke
2011-09-23 17:56
Pretoria – Meer as 300 000 mense met identiteitsdokumente is nie op die regering se geoutomatiseerde databasis van vingerafdrukke nie, het die departement van binnelandse sake Vrydag gesê.
Mkhuseli Apleni, direkteur-generaal van die departement, sê dié individue loop die risiko om aan bedrog en korrupsie deur middel van identiteitsdiefstal blootgestel te word.
Die departement sal glo binnekort bekendstel hoe hulle die situasie sal oplos.
“... Ons kyk na die moontlikheid of daar ‘n fasiliteit binne ons kantore kan wees om te sien wie geregistreer is en wie nie,” het Apleni gesê.
Teen einde Maart was daar 37 miljoen rekords van vingerafdrukke in die geoutomatiseerde identifiseringsisteem gestoor. Hierdie identifisering deur middel van vingerafdrukke is ‘n subsisteem van die departement se nasionale identifiseringsisteem.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA