Regering in die sop oor vuurwapenwet
2010-07-16 17:01
Johannesburg - Die Black Gun Owners Association het Vrydag gesê dat hulle die Suid-Afrikaanse regering vir R3.2 miljard sal dagvaar nadat duisende mense hul werk verloor het sedert die nuwe vuurwapenwet op 1 Julie 2004 in werking getree het.
“’n Totaal van 800 winkels wat vuurwapens verkoop moes hulle deure sluit. Sowat 10 000 mense het hulle werk verloor en meer as 40 000 swart mense is tussen 2004 en 2010 vuurwapenlisensies geweier,” het die vereniging se voorsitter, Abios Khoele, tydens ‘n perskonferensie in Johannesburg gesê.
“Die regering is daarop uit om swart mense te ontwapen omdat hulle soveel beloftes oor dienslewering gemaak het, wat nooit gematerialiseer het nie. Hulle is bang dat swart mense teen die regering sal draai as hulle gewapen is.”
Die organisasie verteenwoordig byna 700 000 vuurwapeneienaars, beide swart en wit, in die industrie.
Volgens Khoele sal die eis aan die einde van Julie ingedien word.
Khoele het bygevoeg dat die sentrale vuurwapenregistrateur – wat die vuurwapenlisensies uitreik – nie genoegsame rede verskaf waarom hulle verskeie aansoek van die hand gewys het nie.
“In die briewe wat hulle uitgestuur het word slegs gesê dat die aansoekers alternatiewe metodes moet soek om hulself te beskerm. Ons wil weet wat hierdie alternatiewe metodes is want die kriminele is gewapen en hulle val mense op ‘n daaglikse basis aan.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA