Regering doen te min, sê Motlanthe
2012-01-29 09:45
Oudtshoorn – Die regering doen te min om werk te skep en armoede te verlig, het adj.pres. Kgalema Motlanthe Saterdag in Oudtshoorn erken.
Hy het ook harde uitsprake gelewer oor die dwarstrekkery in die meerderheidsparty en gesê dit kan die ANC se ondergang beteken.
“Dis ’n reg om te werk. Die vryheidsmanifes sê só. En ons het nie daarmee bedoel ons mense moet van maatskaplike toelaes afhanklik wees nie,” het hy gesê in die Bridgeton-sportstadion waar hy die Wes-Kaapse ANC se eeufeesvieringe geopen het.
“Een van die huidige regering se vyf prioriteite is werkgeleenthede. Julle wil werk hê,” het hy op die skare se versoek in Xhosa gesê.
“Verandering gaan net kom as ons beter georganiseerd is. Julle moet beter georganiseer word sodat julle ons kan sê wat julle nodig het. Dit moet van júlle kom. As julle op die regering wag om te lewer gaan niks gebeur nie. Die regering fokus altyd op dit wat blyk die dringendste te wees.”
Motlanthe het sowat 1 000 mense toegespreek.
Hy het van sy voorbereide toespraak oor die ANC se geskiedenis afgewyk om oor vernuwing in die party te praat.
“Wanneer ons wankel en dit lyk asof ons in verskillende rigtings trek, vra die leiers op die vasteland: ‘Meneer die president, wat maak jy met ons organisasie?’ Hulle verwag van ons (die huidige leierskorps) om die ANC op te pas.
“Mense moet die ruimte gegun word om hul kommer te lug.”
Motlanthe het aangevoer die ANC is soos ’n spies, maar kan nie sonder die mense se bydraes armoede beveg nie.
“Ons moet waak teen twee afwykings (in die ANC): Diegene wat regs draai, is mense wat aanpas by omstandighede en die wil verloor het om die stryd om verandering verder te voer.
“Hulle sê: ‘Asseblief moenie dit of dat doen nie. Kan julle nie sien julle gooi die appelkar om nie?’
“Diegene wat links draai, is dronk van oorwinning en wil alles vinnig reg maak soos ’n mikrogolf.
“Die ANC sal nie self oorleef vir die volgende 100 jaar tensy ons relevant is tot die kwessies wat ons mense vandag raak nie.
“Geen organisasie sal oorleef as hy op sy verlede staat maak nie. Dis goed om hulde te bring, maar die organisasie het vandag helde en simbole nodig.”
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport