Regering bestee R1,5 miljard op luukshede
2010-07-15 18:07
Kaapstad – Sedert pres. Jacob Zuma aan bewind gekom het, het sy regering reeds R1,5 miljard op luukse motors, vyfster hotel akkommodasie, partytjies, kaartjies vir sportaangeleenthede en selfprysende advertensies spandeer, het die DA Donderdag gesê.
“Hierdie is ‘n wanbesteding van publieke fondse,” het Lindiwe Mazibuko, nasionale woordvoerder van die Demokratiese Alliansie op ‘n parlementêre mediakonferensie gesê.
Die R1,5 miljard is R500 miljoen meer as die syfer wat in April vanjaar deur haar party bekendgemaak is, het sy gesê.
Volgens die DA is departement van Openbare Werke die staatsdepartement wat die meeste geld mors en op provinsiale vlak is die provinsiale regering van KwaZulu-Natal die grootste sondebok.
Lindiwe Sisulu, minister van verdediging is verantwoordelik vir die verkwisting van R7 miljoen op motors nadat haar departement vier Mercedes Benz motors aangekoop het.
Zuma se regering het glo ook al R65,8 miljoen op nuwe voertuie spandeer.
Die dokument wat deur die DA vrygestel is bevat ook besonderhede oor die miljoene wat kabinetministers en munisipaliteite op Wêreldbekerkaartjies spandeer het.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA