'Regering bereid om Grondwet te wysig'
2011-09-21 08:07
Kaapstad – As die Grondwet in die pad staan van die regering se doelwitte met grondhervorming, is die regering bereid om die Grondwet te wysig.
Só het Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Dinsdag aan die parlementere portefeuljekomitee oor landelike ontwikkeling en grondhervorming gesê.
Nkwinti, adjunkminister Thulas Nxesi en die topamptenare van hul departement het in debat met die DA-LP’s Lindiwe Mazibuko en Annette Steyn getree op die ministerie se eerste parlementêre voorlegging oor groenskrif oor grondhervorming.
Hoewel Nkwinti benadruk het dat dit slegs ’n verkennende gesprek oor die onderwerp is en dat almal oop vir oortuiging moet bly, het hy ernstige beleidsaanduiders gegee.
“Die Grondwet moet die gemeenskap help om vooruit te beweeg. As vooruitgang vashaak, moet die Grondwet aangepas word. As dit nodig is, sal ons die Grondwet aanpas om by ons doel uit te kom,” het hy gesê.
Nkwinti het in spesifiek verwys na kommer oor die grondwetlikheid van die voorgestelde grondwaardeerder-generaal en die grondbestuurkommissie, wat sal moet toesien dat grond aangewend word in ooreenstemming met regeringsbeleid.
Nkwinti het nie spesifiek na die grondwetlike bepalings oor eiendomsreg verwys nie, en dit is nie spesifiek deur die departement as ’n beleidsuitdaging gelys nie.
Amptenare het wel herhaal dat die beginsel van gewillige koper en gewillige verkoper ’n beleidsbesluit van die regering was en is, en nie ’n grondwetlike vereiste nie.
In ’n verdere belangwekkende verwikkeling het Nkwinti aangekondig dat die departement reeds aan die kabinet voorgestel het dat aansoeke vir die herstel van ontneemde grondbesit heropen word.
Hy het gereageer nadat Mandla Mandela, ANC-LP, die aandrang op so ’n stap geopper het. Die kabinet het nog nie oor die versoek besluit nie.
Nkwinti het gese die fokus in regeringsbeleid ná 1994 was op versoening eerder as gelykberegting. Hoewel dit korrek was en versoening steeds belangrik bly, is ’n tydbom aan die tik as gelykberegting nie plaasvind nie.
Namens die DA het Mazibuko en Steyn benadruk dat die regering die rol van kolonialisme en apartheid oorspeel, terwyl die wanbestuur en korrupsie van die ANC daartoe bydra dat beleid misluk.
Mazibuko het ook gesê beleid moet aan die eise van die Grondwet voldoen, nie die Grondwet aan die eise van beleid nie.
Die DA het die departement getakel omdat daar nie kosteberekenings gemaak is nie, oor die staat nie eens weet hoeveel grond in staatsbesit is nie, oor die algehele afwesigheid van empiriese navorsingsbewyse oor die geldigheid van die beleid of die uitvoerbaarheid van die oplossingsvoorstelle, en oor die departement se onvermoë om beleid prakties uit te voer.
Die belang van voedselsekerheid is ook beklemtoon.
Departementele amptenare het gesê voedselsekerheid is ’n sentrale oorweging. Hulle het beweer die staat weet hoeveel grond hy het, maar nie presies waar dit geleë is nie.
Nxesi het erken gebrekkige voorligting en nasorg deur die ANC-regering het swart boere sedert 1994 tot mislukking gedoem.
Hy het gesê die DA se kritiek is grootliks gegrond, maar in die finale beleid sal tekortkominge oorkom word.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad