Regering: Ons moes vloedramp beter bestuur
2011-01-27 06:47
Kaapstad. – Die regering is al in Augustus 2010 gewaarsku om bogemiddelde somerreënval in groot dele van die land te wagte te wees, maar was vier maande later steeds onvoorbereid op die vloedramp.
Nie net het die departement van samewerkende regering weens ’n personeeltekort nie ’n behoorlike gebeurlikheidsplan gehad nie, maar damvlakke en die oopmaak van sluise is ook nie behoorlik bestuur nie.
“Wat het ons gedoen nadat ons die vroeë voorspellings ontvang het? Wel, ek dink dit is duidelik ons het nie gedoen wat ons kon doen nie,” het Elroy Africa, direkteur-generaal, Woensdag in die parlement erken.
Hy en Mmaphaka Tau, ’n senior bestuurder in die departement se rampbestuursentrum, het aan die portefeuljekomitee oor samewerkende regering erken die vloede kon beter bestuur gewees het en die “impak daarvan kon moontlik anders gelyk het”.
Minstens 8 000 gesinne is dakloos en 70 mense is in Gauteng, Noordwes, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga, Vrystaat en in die Oos- en Noord-Kaap dood.
Volgens Africa sal die dodetal uiteindelik “aansienlik” hoër wees en beloop die skade aan onder meer infrastruktuur sowat R1,5 miljard.
33 munisipaliteite is reeds tot rampgebiede verklaar en nóg swaar reën word tot in Maart verwag.
Hoewel swaar neerslae sedert Desember voorgekom het, is ’n nasionale operasionele beheersentrum om hulpverlening en optrede in die agt provinsies te koördineer eers eergister op die been gebring.
Voorts is die pos vir die hoof van die nasionale rampbestuursentrum al maande lank vakant.
“Ons span in die nasionale rampbestuursentrum is yl,” het Tau gesê. Gebeurlikheidsbeplanning het nie gebeur soos dit moes nie, grootliks weens “kapasiteitsprobleme”. “Ons sou dit (die vloede) beter kon bestuur as ons behoorlik voorbereid was,” het Tau erken.
Volgens hom het die Southern African Regional Climate Outlook Forum (Sarcof) in Augustus voorspel lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se streek moet hulle op ’n La Niña-weerpatroon voorberei. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het dié voorspelling bekragtig. “Ons was dus bewus van die situasie.”
Die DA wou by Tau weet of klagtes dat die damme se sluise nie betyds oopgemaak is nie, geldig is en of die vloedskade beperk kon gewees het.
Tau het gesê hoewel hulle die samewerking tussen verskillende regeringsdepartemente koördineer, moet elke departement sy eie risikobestuur toepas.
Hy het die departement van waterwese uitgesonder as een van dié wie se risikobestuursplanne nog nie gefinaliseer is nie. “As daar iemand was met ’n begrip van risikobestuur, sou damvlakke gemonitor gewees het. Daar sou nie ’n situasie gewees het waar damme meer as 100% vol is en dit daar gelaat word terwyl nog reën voorspel word nie.”
Die sluise van die Gariep- en die Vanderkloofdam is nie tydens die swaar reënval oopgemaak nie en volgens Tau was albei damme gister 111% vol.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld