Reeva-moord: Polisie vind bebloede kolf
2013-02-17 11:08
Johannesburg – Suid-Afrika se polisiediens het ná die moord op Oscar Pistorius se vriendin, ‘n bebloede krieketkolf in die atleet se huis gevind, het ‘n koerant berig.
Die sportheld is vroeër die week van die moord op Reeva Steenkamp aangekla nadat die model op Valentynsdag in sy spoghuis in Silver Woods, Pretoria, doodgeskiet is.
Polisiebronne na aan die ondersoek het aan City Press gesê die slagoffer se skedel is “vergruis.”
“Daar was baie bloed op die kolf,” het die bron aan die koerant gesê.
Polisiebeamptes is besig om vas te stel of die kolf gebruik is om die model aan te rand, en of sy dit gebruik het om haarself te beskerm.
Steenkamp (29) is op die toneel dood verklaar nadat sy vier keer geskiet is.
Die polisie het aanvanklike bespiegelinge dat die sportster die model vir ‘n inbreker misgis het, ten sterkste ontken.
“Ons vermoed die eerste skoot wat in die slaapkamer afgevuur is, het haar in die heup getref. Sy het toe gehardloop en in die badkamer gaan wegkruip... Hy het nog drie skote afgevuur,” het ‘n polisiebron aan die koerant gesê.
Pistorius (26) – ‘n nasionale ikoon wat mense van oor die wêreld geïnspireer het – het die naweek in ‘n polisiesel deurgebring nadat hy van moord aankla is.
Hy sal eersdaags weer in die hof verskyn, waar hy aansoek om borgtog sal doen.
Pistorius kan tot lewenslange tronkstraf gevonnis word indien hy op aanklag van moord met voorbedagte rade skuldig bevind word.
Sy familie het aangedui dat die atleet – wat tydens sy eerste hofverskyning in trane uitgebars het – skuld sal ontken.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP