Reëlings vir Wêreldjeugfees ‘’n deurmekaarspul’
2010-12-10 09:42
Die Burger
Kaapstad – Met slegs twee dae oor voordat die Wêreldjeugfees in Pretoria begin, is daar steeds geen duidelikheid of die “duisende” plaaslike en oorsese afgevaardigdes inderdaad gaan opdaag nie.
Die geleentheid word vanjaar vir die eerste keer in Suid-Afrika gehou en die reëlings is deur die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) behartig.
Andile Lungisa, NYDA-voorsitter, het by verskeie geleenthede in die media gesê bykans 30000 afgevaardigdes, van wie 15000 van oorsee is, sal by die fees wees. Sowat 15 staatshoofde sal dit glo ook bywoon.
Maar ’n ingeligte wat in die NYDA dien en op voorwaarde van anonimiteit gepraat het, het gister aan Die Burger gesê nog nie eens 4000 oorsese afgevaardigdes het enigsins aangedui of hulle by die fees sal wees nie.
“Ek het verneem geen staatshoofde het positief (op die uitnodiging) gereageer nie,” is gister aan Die Burger gesê.
’n Afgevaardigde wat volgende week se fees as ’n waarnemer gaan bywoon, het gister laat blyk daar is groot onsekerheid oor die fees se reëlings.
Hy het per e-pos aan Die Burger gesê selfs diegene wat in die reëlingskomitee dien, “weet self nie” wat aangaan nie.
“Hulle het gesê hulle sal my bel as hulle in ’n hotel plek kry, en hulle het geen idee hoeveel mense gaan opdaag nie.”
Heelparty afgevaardigdes het die afgelope week op die sosiale netwerk Facebook boodskappe gepos en gevra wat hulle te doen staan om meer inligting oor die fees te bekom.
Intussen het Lungisa gister op ’n nuuskonferensie in Midrand steeds volgehou dat 30000 mense by die geleentheid verwag word, berig Sapa. Almal sal by die Tshwane Universiteit van Tegnologie gehuisves word. Die geleentheid sal glo ook nie meer R340miljoen kos soos wat aanvanklik geraam is nie, het Lungisa gesê.
Nadat heelwat kostebesnoeiings gedoen is, sal die koste nou R69miljoen beloop, waarvan die Nasionale Lotery R40miljoen sal bewillig.
Volgens Lungisa sal die regering vir die saldo van R29miljoen pa staan.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger