Reeksverkragter, -moordenaar gevonnis
2011-03-18 18:00
Johannesburg – Die veroordeelde verkragter en moordenaar Jack Mogale is veelvuldige lewenslange tronkstraf in die Johannesburgse hooggeregshof opgelê, het die SABC berig.
Regter Frans Kgomo het Mogale (42) tot 16 keer lewenslange tronkstraf gevonnis. Daarna sal hy nóg 23 jaar tronkstraf uitdien sonder die moontlikheid van parool.
Kgomo het gesê Mogale is ‘n bedreiging tot die samelewing.
“Julle kom saam, bid ek. Ek sal binnekort uit wees,” het Mogale in Sepedi aan die slagoffers se familielede geskree toe hy die hof verlaat.
Kgomo het gesê Mogale moet weg van vroue en die samelewing gehou word.
Mogale is Woensdag skuldig bevind op nege ontvoerings, 19 verkragtings, 16 moorde, poging tot moord, drie rooftogte, bedrog of diefstal, aanranding en seksuele aanranding.
Hy het skuld ontken op alle aanklagte teen hom.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA