Reeksverkragter kry lewenslange vonnis
2011-08-03 09:17
Krugersdorp – Die Muldersdrift-reeksverkragter is gister in die Krugersdorpse streekhof tot dubbele lewenslange tronkstraf plus nog 55 jaar gevonnis.
Shavhani Lazzy Phophi (33) het vyf vroue en ’n minderjarige meisie verkrag.
Phophi, wat beweer het hy is ’n mansprostituut, het skuld beken op ses aanklagte van verkragting, drie van roof met verswarende omstandighede en twee van diefstal.
Hy is twee maande gelede skuldig bevind.
Phophi het ’n meisie (toe 7) in Mei 2006 onderweg na haar skool in Nooitgedacht met ’n mes aangehou, in die bosse ingesleep en verkrag.
In Junie 2009 het hy ’n 38-jarige vrou van Tembisa met die belofte van werk gelok nadat sy ’n werksoek-advertensie in ’n koerant laat plaas het.
Daarna het Phophi drie vroue, almal tussen 24 en 36 jaar oud, ook met werkaanbiedinge gelok en verkrag.
Hy is op 2 Junie verlede jaar vasgetrek in ’n mobiele toilet in Kaya Sands, noordwes van Johannesburg.
Die hof het voor vonnisoplegging gelas ’n sielkundige impakstudie moet gedoen word om te bepaal wat Phophi se kanse op rehabilitasie sou wees.
Dr. Giada Del Fabbro, ’n senior kliniese sielkundige van die kinder-en-gesinseenheid van die Charlotte Maxeke-hospitaal, het getuig dit is die moeilikste om kindermolesteerders en reeksverkragters in die land te rehabiliteer omdat geen bestaande programme daarvoor bestaan nie.
“Prostitute en pornografiese materiaal was nie genoeg vir hom om sy seksuele drang te bevredig nie,” het Del Fabbro getuig. “Hy is intelligent, maar het ’n beperkte kapasiteit vir empatie met sy slagoffers.”
By vonnisoplegging het streeklanddros Keith Page swaar klem gelê daarop dat Phophi in ag genome die omvang van MIV/vigs geen moeite gedoen het om ’n kondoom te gebruik nie en die hof meer as ’n jaar om die bos gelei het voordat hy erken het hy het al die misdade gepleeg. Hy het sy slagoffers doelbewus aan nog trauma blootgestel toe hulle in die hof weer moes kom getuig, al het hy goed geweet hy het die misdade gepleeg.
As verswarende omstandighede het Page uitgelig dat die “hulpelose” slagoffers Phophi in ’n vertrouensposisie geplaas het en hy daarvan misbruik gemaak het en hul menseregte geskend het.
Een van Phophi se slagoffers het in Mei vanjaar selfmoord gepleeg.
Benewens die lewenslange vonnisse weens die verkragtings, het Page Phophi tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op elk van die drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede. Dit sal samelopend uitgedien word met die vyf jaar elk weens die twee aanklagte van diefstal.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld