Reddingswerkers sterf in myn-ongeluk
2011-09-27 17:58
Johannesburg – Twee reddingswerkers het gesterf terwyl hulle probeer het om die lyk van ‘n mynwerker in Harmony Gold se Evander-myn in Mpumalanga terug te vind, het die maatskappy Dinsdag gesê.
‘n Derde lid van die eksterne reddingspan het ongedeerd na die oppervlak teruggekeer. Die ongeluk het Maandag gebeur.
“In hierdie stadium weet ons nie wat gebeur het nie, maar ‘n ondersoek is vandag geloods,” het Marian van der Walt, woordvoerder van Harmony, gesê.
Die Harmony-mynwerker het vermoedelik in die ertsglybaan, ‘n styl en nou kanaal wat gebruik word om erts en toerusting op en af in die myn te vervoer, gewerk toe hy in die ongeluk dood is.
Die reddingspan het na sy lyk gesoek toe ‘n tweede ongeluk gebeur het.
Graham Briggs, uitvoerende hoof van Harmony, het sy medelye met die families en kollegas van die mynwerker en reddingswerkers uitgespreek.
Alle mynwerk is gestaak totdat die oorsaak van die twee ongelukke bepaal is.
“Hierdie is baie traumaties vir almal,” het Van der Walt gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA