Reddingshonde depressief in Haïti
2010-01-25 20:08
Johannesburg – Selfs die reddingshonde wat in Haïti gebruik word tydens reddingspogings word glo depressief.
“Een van die uitdagings wat ons het is dat die honde baie depressief word,” het ‘n lid van die Suid-Afrikaanse noodlenigingsgroep Gift of the Givers gesê.
Hy het tydens ‘n perskonferensie met die media gepraat kort na sy terugkeer na Suid-Afrika.
Volgens Mark Louw, instrukteur by die Noordwes-kollege vir mediese nooddienste, is dit goed vir die honde se moraal om iemand lewend te vind. Maar die laaste paar dae het dit selde gebeur.
Die Suid-Afrikaanse span het kragte saamgesnoer met die span uit Mexiko wat honde gebruik het om deur die puin na oorlewendes te soek.
“As die honde net op lyke afkom en geen meer oorlewendes vind nie word hulle baie depressief,” het hy gesê.
–Sapa