Reaksie op OG se ouditverslag ‘oordrewe’
2012-07-27 22:13
Johannesburg – Die implikasies van ‘n verslag deur die ouditeur-generaal (OG) wat daarop dui dat slegs vyf persent van die land se 343 munisipaliteite vir die afgelope jaar skoon oudits gehad het, moenie “oordryf” word nie, het die Suid-Afrikaanse vereniging vir plaaslike regerings (Salga) gesê.
Terence Nombembe se verslag, wat Maandag vrygestel is, toon dat slegs vyf persent van die land se munisipaliteite skoon oudits gehad het, en dat transaksies ter waarde van R3,5 miljard nie nagespoor kon word nie omdat daar nie inligting is daaroor nie.
Salga het gesê dié verslag moet “ondersoek word”, eerder as om op oordrewe wyse beklemtoon te word.
“’n Skewe beeld word geskilder van die ineenstorting van die finansiële bestuur in baie plaaslike regerings, insluitend die groot stede,” het Salga se voorsitter, Thabo Manyoni, gesê.
“Maar wanneer die bevindings van nader beskou word, en ’n mens’n beter begrip het vir die aard van dié oudits en die terminologie wat daarin gebruik word, lyk dinge anders.”
Monyi het erken dat plaaslike regerings deur probleme in die gesig gestaar word, maar het volgehou dat die probleme nie oordryf moet word nie.
"Plaaslike regerings se vermoë om hulle finansies te bestuur en by streng finansiële beheermaatreëls te hou is nie so sleg soos wat die aanvanklike reaksie op die OG se verslag ‘n mens laat dink nie."
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA