Regses oor wapens aangekeer
2010-10-01 07:27
Buks Viljoen en Carina van Wyk
Johannesburg - Oud-kmdt. Willem Ratte, ’n oud-verkenningsoldaat en bekende in regse kringe, is gistermiddag saam met nege ander mans op ’n plaas in Mpumalanga gearresteer weens beweerde misdade wat met terrorisme verband hou.
’n Bron baie na aan die ondersoek het bevestig dat Ratte een van die verdagtes is. Die polisie het onder meer op ’n R4-, twee jaggewere, haelgewere, voorlaaiers en patrone beslag gelê.
Nog ’n polisieman het bevestig die mans is omstreeks 13:30 op die plaas by Balmoral, naby Witbank, in hegtenis geneem. Volgens hom is van die wapens gelisensieer.
Daar was glo meer as 5 000 patrone vir verskillende wapens.
Daar word beweer mense word by die opslagplek in terrorisme opgelei, al word dit glo voorgehou as ’n plek waar hulle geleer word om sweiswerk te doen.
Benewens die wapens is daar ook op ou weermaguniforms en stewels beslag gelê.
’n Mens kan ’n Vierkleur op die plaas tussen Bronkhorstspruit en Witbank sien wapper as jy op die N4 verby ry.
Kapt. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het die inhegtenisnemings bevestig.
Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.
Ratte het in die Grensoorlog geveg en is onder meer met die Pro Patria- en die Suiderkruis-medalje vereer.
Hy het later berug geword om sy verregse politiek nadat hy Fort Schanskop in Pretoria in 1994 simbolies beset het.
Hy is in 2001 skuldig bevind aan sabotasie en vir vier jaar tronk toe gestuur ná ’n poging in 1997 om by die militêre basis by Pomfret in die Noord-Kaap in te breek, het Erika Gibson berig.
Ratte en tien meelopers is vervolgens aan sabotasie skuldig bevind.
Opgeskorte vonnisse is aan die groep opgelê en net Ratte het uiteindelik agt maande in die tronk deurgebring.