Ratcliffe bedank uit Nelson Mandela-kinderfonds
2010-08-18 23:15
Kaapstad – Jeremy Ratcliffe het weens sy betrokkenheid in die bloeddiamante-skandaal uit sy pos as trustee van die Nelson Mandela-kinderfonds bedank.
Ratcliffe het blykbaar drie sogenaamde ongeslypte bloeddiamante van Naomi Campbell ontvang.
“Ratcliffe is spyt dat hy nie die voorsitter van die Nelson Mandela-kinderfonds van die diamante vertel het nie.
“Hy besef dat, indien hy wel destyds openlik was oor die saak, die raad ‘n beter en meer wettige manier sou kon vind om die situasie te hanteer,” het die NMCF in ‘n verklaring gesê.
Ratcliffe het die raad laat weet dat hy homself nie weer verkiesbaar sal stel by die algemene vergadering wat later die maand plaasvind nie.
Die raad het Ratcliffe se verskoning aanvaar, sowel as sy besluit om eerder te bedank.
- SAPA