'Rassisme in samelewing nog springlewendig'
2011-02-15 09:14
Pretoria - “Ek is nie so dapper om te sê ek is nie ’n rassis nie. My vooroordele setel diep...”
Só het Leon Wessels, gewese menseregtekommissaris, Maandag op die teologiese dag van die NG Kerk aan die begin van die akademiese jaar aan Tukkies se fakulteit teologie gesê.
Wessels was een van die sprekers op ’n byeenkoms waar daar besin is oor waar die NG Kerk staan 25 jaar nadat die kerk die beleidsdokument Kerk en Samelewing aanvaar het.
Dit is die dokument waarin die NG Kerk gesê het hy is oop vir alle rasse en waarmee die kerk begin het om weg te beweeg van apartheid.
Wessels het gesê rassisme is nou al ’n holrug geryde tema, maar dit is nog springlewendig in die samelewing.
’n Mens kan jou nie onttrek en die verskynsel van verskille tussen mense ignoreer nie. Dit help ook nie om daaroor te baklei nie.
“Ons moet praat,” het Wessels gesê.
Hy het vertel hoe hy op ’n besoek aan Oos-Europa geen kommunis daar kon opspoor nie.
Net so is dit omtrent onmoontlik om iemand in Suid-Afrika te vind wat erken hy of sy is ’n rassis.
Hy het te kenne gegee dat dié soort ontkenning nie help nie en toe erken dat hy self met diepgesetelde vooroordele sit waaraan hy moet werk.
Sy raad was dat ’n mens nie moet skaam wees daaroor nie.
“Dis ons verlede. Dis ’n wêreldprobleem,” het hy gesê.
Ook dr. Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Kerk, het gesê rassisme “lewe nog lustig voort in ons samelewing onder alle groepe”.
Hy het gesê rassisme is destyds in Kerk en Samelewing in duidelike taal veroordeel.
Uit die familie van NG Kerke is daar egter gevra of daar nie verskuilde rassisme steek in die feit dat daar nie ’n duidelike standpunt oor konkrete hereniging is nie.
Gerber het ’n sterk pleidooi vir kerkeenheid gelewer en gesê dit kan die grootste gebeurtenis in Suid-Afrika wees naas die politieke oorgang van 1994.
Prof. Julian Müller, adjunk-dekaan van die fakulteit, het verwys na ’n Amerikaner wat homself ’n “recovering racist” genoem het.
Hy het gesê ’n mens kan nooit volledig daarvan genees wees nie, maar hoogstens in ’n proses om daarvan gesond te word.
- Volksblad