Rasseverhoudings ‘op laagtepunt’
2010-12-15 07:11
Die Burger
Kaapstad - Rasseverhoudinge in Suid-Afrika is op ’n laagtepunt en ’n nasiebouprogram om die verskillende rasse te versoen, “is dringend noodsaaklik”.
Dié bevinding is vervat in die regering se ontwikkelingsaanwysers vir 2010 wat Trevor Manuel, minister in die presidensie gemoeid met beplanning, Dinsdag bekend gestel het.
Die lywige dokument gee ’n aanduiding van die impak van die regering se beleid en programme die afgelope jaar en is opgestel uit ’n verskeidenheid amptelike statistieke, regeringsinligting en navorsing deur onafhanklike instellings.
Dit wissel van die stand van die ekonomie, werkloosheidsyfers, armoede en ongelykheid tot maatskaplike kwessies, gesondheid, onderwys, veiligheid en nasionale samehorigheid. Dit is hier waar die regering se pogings om rassisme uit te roei en van Suid-Afrikaners ’n verenigde nasie te bou, swak vaar.
Skaars 54% van landsburgers beskou hulself as Suid-Afrikaners. Ander sê hulle is Afrikane (30%) en die res identifiseer hulself eerder na gelang van ras (7%) en taal (2%).
Minder as die helfte van Suid-Afrikaners (46%) meen rasseverhoudinge het die afgelope jaar verbeter. Dit is die swakste sedert Mei 2003, toe 48% dieselfde standpunt gehuldig het.
Luidens die dokument kon nie eens die “euforie” oor die Wêreldbeker-sokkertoernooi mense se gevoel van optimisme laat herleef tot op die vlak van 1994 nie. Tóé het 76% gevoel die land is op die regte pad, maar die optimisme het jaarliks getaan tot die huidige vlak van 55%.
Daar word aangevoer gewapende rooftogte is besig om pogings tot nasiebou “tot niet te maak”. Dit knou die land se globale mededingendheid.
“Die feit dat bykans ’n kwart van alle volwassenes in al drie peilings (1998, 2003 en 2007) misdaad beleef het, is onaanvaarbaar.”
Luidens die dokument was driekwart van die bevolking teen 2009 darem nog “trots Suid-Afrikaans”.
Korrupsievlakke is egter kommerwekkend en “vereis dringende aandag”.
Manuel het gesê die ontwikkelingsaanwysers sal die regering in staat stel om sy prestasie gedurig te meet en te verbeter en die publiek terselfdertyd help om regeringsleiers aanspreeklik te hou.
- Die Burger