Rasseklag teen Motata dalk nie voor tribunaal
2011-05-30 14:13
Johannesburg – Die Regterlike Dienskommissie (RDK) mag dalk 'n aanbeveling dat die klag van rassisme teen regter Nkola Motata na 'n tribunaal verwys word, van die hand wys, het 'n woordvoerder Maandag gesê.
"Die regterlike gedragskomitee het hul aanbeveling dat hy (Motata) na die tribunaal verwys moet word, deurgestuur," het Dumisa Ntsebeza, woordvoerder van die RDK, gesê.
"Die kommissie sal besluit of hulle die aanbeveling aanvaar. Die raad kan nie net die aanbeveling aanvaar nie. Die RDK kan tot 'n ander slotsom kom," het hy gesê.
Ntsebeza het gesê al die lede was nie teenwoordig toe die RDK Saterdag oor die saak vergader het nie.
"Al die lede moet nou geskrewe inhandigings kry omdat hulle almal nie daar was nie."
Ntsebeza kon nie sê hoe lank die RDK gaan neem om 'n besluit oor Motata te maak nie.
Die burgerregtegroep AfriForum het die klag teen Motata ingedien nadat hy glo rassistiese aanmerkings gemaak het toe hy in 2007 teen die grensmuur van 'n huis in Johannesburg vasgery het.
Motata is twee jaar later skuldig bevind op aanklag van dronkbestuur, maar is met volle betaling op spesiale verlof geplaas.
Jeff Radebe, minister van justisie, het vroeër vandeesmaand gesê hy glo Motata moet op spesiale verlof bly totdat die RDK sy ondersoek na AfriForum klag afgehandel is.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA