Rassegeweld woed by skool
2010-09-17 09:22
Johannesburg - Die polisie is Donderdag na die Hoërskool Carletonville in Gauteng ontbied nadat swart en wit kinders mekaar glo met die vuiste bygedam het in rassegeweld.
Die voorval het blykbaar ’n week lange aanloop gehad nadat ’n swart kind glo ’n bal tussen ’n groep wit kinders ingeskop het.
Charles Phahlane, woordvoerder van die Gautengse onderwysdepartement, het bevestig dat daar gister twee afsonderlike voorvalle van vermoedelik rasseverwante bakleiery op die skoolterrein was.
“Die skoolhoof (Callie Pienaar) het die polisie ontbied nadat onderwysers die bakleiery stopgesit het,” het Phahlane gesê.
“Die hoof en die onderwysdepartement se distrikskantoor vergader môre (vandag) om die oorsaak van die probleem te identifiseer sodat besluit kan word hoe op ’n gepaste manier ingegryp sal word.”
Phahlane het gesê die onderwysdepartement is tevrede met hoe die skool die situasie hanteer. “Daar is nie plek vir rassisme in ons skole nie.”
Sers. Busi Menoe, woordvoerder van die Carletonville-polisiekantoor, het gesê toe die polisie gister by die skool opdaag, was die bakleiery verby. “Die polisie het die betrokke kinders en hul ouers aangeraai om na die polisiekantoor te gaan en klagte in te dien. Tot dusver is geen amptelike klag aanhangig gemaak nie,” het hy teen druktyd gesê.
’n Leerling van die skool wat uit vrees vir viktimisering nie sy naam bekend wou maak nie, het gistermiddag aan Beeld vertel hy het gesien hoe swart en wit kinders mekaar ná ’n pouse en later weer (onder meer by die snoepie) met vuiste bydam. “Dit het nie vir my gelyk of iemand bloei nie, maar ek kon sien van die ouens het pyn.”
Volgens die leerling het onderwysers die bakleiery stopgesit. “Die polisie het later gekom. Toe ek uit die klas kom, sien ek die polisiemanne staan en kyk dat die kinders nie weer baklei nie.”
Die leerling het nie geweet wat tot die bakleiery gelei het nie.
Cerise du Plooy, ’n joernalis by Beeld se susterkoerant die Carletonville Herald, het vertel toe sy gister by die skool opdaag, het polisielede by kinders gestaan om die orde te handhaaf. ’n Patrollievoertuig het om die skool gery.
Volgens Du Plooy is dit nie die eerste voorval van rassegeweld by die skool nie en was gister se voorval blykbaar die gevolg van ’n week lange struweling. “Dit het glo begin nadat ’n swart kind ’n bal tussen wit kinders ingeskop het.”
Pienaar wou nie kommentaar lewer nie.
- Beeld