'Rasse-oorlog' bars by skool los
2010-11-01 07:59
Volksblad
Parys - ’n Bakleiery tussen twee leerlinge van die Hoërskool Parys wat dadelik aan erge rassespanning toegeskryf is, het in ’n verrassende wending tot ’n klipgooiery tussen wit liberale en verregses oor rassehaat ontaard.
Na bewering het “rassespanning” by dié skool tot ’n ongekende uitbarsting gelei waarin “nagenoeg 50” leerlinge mekaar in ’n skoolpouse bygedam het.
Angsbevange onderwysers en ’n paar leerlinge het glo hulpeloos toegekyk toe dié rassekonflik tussen swart en wit leerlinge ’n klimaks bereik het.
Sedert dié voorval Donderdag gons dit behoorlik op Parys, asook die internet daaroor.
Dit het spoedig in die kuberruim in ’n vingerwysing na “verregse” partye oor die aanwakker van rassehaat ontaard, wat die fokus op dié skoolbakleiery effens verskuif het.
Die Afrikaner Volksparty (AVP), wat bogenoemde bewerings verkondig, sê op sy webwerf dié uitbarsting het ’n “baie lang aanloop” gehad.
Voorts “bevestig (dit) wéér dat daar nie so iets soos vredevolle rasse-integrasie bestaan nie”.
In dié verklaring skryf die AVP rede tot kommer bestaan werklik oor die veiligheid van “blanke” leerlinge, en nie net by die Hoërskool Parys nie, “maar in elke rasgeïntegreerde skool in hierdie eens beskaafde land”.
Wilde aantygings word gemaak oor die aanloop tot die beweerde uitbarsting, wat dreigemente van liggaamlike leed met skêre en erge intimidasie aan die hand van swart leerlinge glo insluit.
Niemand is egter met ’n skêr gesteek nie.
Lucien van Zyl, skoolhoof, het Sondag aan Volksblad “normale voorvalle” by die skool bevestig, maar verseker dit het absoluut niks met rassespanning te doen gehad nie.
Henk Havenga, voorsitter van die skool se beheerliggaam, sê: “Dit is totale bog. Een leerling het met ’n ander baklei – soos wat in enige gewone skoolbakleiery voorkom. Ongelukkig was die een leerling wit en die ander swart.”
Havenga het Sondag sterk te velde getrek teen die boodskap wat die AVP uitstuur.
Hy sê dit is betreurenswaardig dat dinge só uit verband geruk word.
Volgens Van Zyl sal die skuldiges vandeesweek dissiplinêr verhoor word.
In ’n kommentaarforum op die internet lok dié voorval twee hemelsbreed uiteenlopende reaksies uit. Waar ander meen dié voorval is ’n voorbeeld van rassespanning eie aan Suid-Afrika, is daar ander wat glo dié AVP-verklaring is eensydig en vals.
Ene Fader4 skryf: “Die artikel is ’n klomp rassistiese snert. Skoolkinders baklei maar – dis niks nuut nie, ek is ook seker dat enige rassehaat wat nou wel bestaan, kom nie net van een kant nie.”
JohanMar skryf: “Stem saam, verregs maak die saak goedkoop, maar hulle is in ’n baie klein minderheid. Hierdie ouens is ons grootste vyande, want hulle wek baie spanning op.”
Die Paryse polisie kon teen druktyd nog nie kommenetaar lewer of, indien enige, klagte voortspruitend uit die voorval ingedien is nie.
- Volksblad