Rampvlug: Vlieënier oor slegte weer gewaarsku
2012-09-14 15:24
Durban – Vlieëniers en ander lugvaartgeesdriftiges het hul skok oor ‘n vliegongeluk buite Cato Ridge in KwaZulu-Natal op ‘n lugvaartforum uitgespreek, het Daily News berig.
“Ek kon dit nie glo toe ek sien hoe daardie vliegtuig in sulke gure weer opstyg nie,” het ‘n gebruiker gesê.
Volgens dié gebruiker het ander vlieëniers die vlieënier aangeraai om nie te vlieg nie, aangesien daar "lae wolke en donderstorms" was.
Die oorsaak van die vliegongeluk naby die Nagle-dam waarin drie mense dood is, is nog nie bekend nie.
RSG berig inwoners van die gebied wat eerste op die wrak afgekom het, sê swart rook was sigbaar voor die ligte vliegtuig geval het. Die dam is sowat 50 km vanaf Durban geleë.
Oproepe oor ‘n vliegtuigongeluk het Donderdag om 17:30 begin deurkom, het Vanessa Jackson, ‘n woordvoerder vir ER24, vroeër in ‘n verklaring gesê.
Die toneel was ontoeganklik per voertuig. Paramedici en ‘n brandweerbeampte moes vir ‘n uur en ‘n half by die berg op stap voor hulle die wrak van ‘n ligte vliegtuig gevind het, het Jackson gesê.
Die vliegtuig was steeds aan die brand en erg beskadig.
“Hulle kon net die verkoolde oorskot van drie mense sien en weens hulle erge brandwonde kon hulle nie uitmaak of dit kinders of volwassenes, of mans of vrouens is nie,” het Jackson bygevoeg.
Sapa berig dis die tweede vliegongeluk in KZN die afgelope week. ‘n Ander ligte vliegtuig het Woensdag naby Pietermaritzburg neergestort.
Volg Nuus24 op Twitter