Ramphele ná Zille is bespiegeling, sê DA
2012-02-27 08:01
Kaapstad – DA-ingeligtes het gister bewerings in die Sondagpers dat Helen Zille, DA-leier, die hoogaangeskrewe intellektueel dr. Mamphela Ramphele as haar opvolger in die oog het, as ongegronde bespiegeling verwerp.
Ramphele het Donderdagaand saam met die Kaapstadse burgemeester, Patricia de Lille, meer as 200 lede van die DA se organisasie vir jong beroepslui in Kaapstad toegespreek.
De Lille het Ramphele bedank vir die raad en leiding wat sy aan haar as burgemeester verskaf.
Ramphele het geen partypolitieke uitsprake ten gunste van die DA gemaak nie, maar gesê die Grondwet is die hoeksteen van die demokrasie en Suid-Afrikaners moet dit teen die regering se aanslae beskerm.
Ryno Geldenhuys, DA-jeugleier in die Kaapse metropool en organiseerder van die geleentheid, het by navraag gesê: “Die jong beroepslui-byeenkomste is juis nie tot DA-lede beperk nie, en ons nooi graag gerespekteerde sprekers wat nie aan die DA behoort nie, om gesprekvoering te verruim.
Dr. Ramphele is genooi as gas van die DA-jeug, en het die uitnodiging aanvaar. Ons het haar genooi omdat ons haar sterk opinie oor die beskerming van die Grondwet hoog aanslaan.
“Dit is duidelik dat ons keuse van gaste belangstelling wek, en ons sal daarmee voortgaan,” het hy gesê.
DA-leiersfigure was Sondag baie geïrriteerd oor die bewerings dat Zille Ramphele as haar opvolger beskou.
Daar is uitgewys dat dit welbekend is dat Zille en Ramphele al donkiejare huisvriende is, dat hul kinders saam skoolgegaan het en dat hulle nou saamgewerk het toe Ramphele rektor en Zille woordvoerder van die Universiteit van Kaapstad was.
Daar was al in die verlede informele toenaderings deur die DA om Ramphele te oortuig om as DA-kandidaat te staan, maar sy het nog altyd volgehou sy verkies om haar politieke rol buite die partypolitiek te speel.
Voorts is uitgewys dat die DA se nasionale kongres, wat uit meer as duisend afgevaardigdes van alle DA-takke bestaan, die partyleier aanwys. Dis nie Zille se taak nie.
Die DA se volgende nasionale kongres, waar leiers verkies sal word, is later vanjaar.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger