Ramphele in Zille-visier as leier van DA
2012-02-26 07:08
Carien du Plessis en Mandy Rossouw
Johannesburg – Die DA vry na die struggle-swaargewig dr. Mamphela Ramphele as ’n moontlike kandidaat om Helen Zille as DA-leier op te volg.
Maar Ramphele, wat die afgelope week by ’n debat van die DA se Jong Professionele in Kaapstad gepraat het, het ten sterkste ontken dat sy vir ’n posisie in dié party sal staan omdat sy groot waarde aan haar onafhanklikheid heg.
“As daar beleide in die DA is waarmee ek saamstem, sal ek met hulle werk. As daar enige beleide in die ANC is waarmee ek saamstem, sal ek met dié party saamwerk,” sê dié akademikus en sakevrou. Zille wou nie kommentaar lewer nie.
’n Hooggeplaaste DA-bron sê Ramphele is deur DA-leiers genader.
“Natuurlik sal ons daarvan hou om haar in die party te hê. Daar is dinge waaroor ons dit eens is.
“Sy huldig nou die boodskap van aktiewe burgery en dit vind aanklank by ons.”
Die hooggeplaaste DA-bron sê Ramphele sou dit oorweeg as sy president van die land kon word of as sy meen dat sy nie langer ’n invloed op die regering buite die formele politiek het nie.
Sommige strateë meen die DA se eerste kans om die land te regeer, as deel van ’n koalisie, kan in 2019 kom.
Ramphele sal dan 72 jaar oud wees, te oud om vir ’n posisie in die DA te staan. Die verbintenis tussen Zille en Ramphele het begin toe Zille destyds die kommunikasiehoof van die Universiteit van Kaapstad was en Ramphele die visekanselier.
Dit is ’n ope geheim in die DA dat Zille daaraan dink om uit te tree en plek te maak vir ’n leier wat aansien by swart kiesers sal hê.
Nog ’n bron na aan Zille sê sy het dit oorweeg om tydens die party se konferensie later vanjaar van die leiersposisie afstand te doen, maar sonder ’n duidelike opvolger moet sy vir nog vir twee jaar aanbly. Zille “wil beheer oor die opvolging hê en het dit duidelik gemaak dat sy vooraanstaande mense in die party wil inbring wat in staat sal wees om by haar oor te neem”, het die bron gesê.
’n DA-amptenaar sê Ramphele, wat in die 1960’s en 1970’s by die swartbewussynsbeweging betrokke was, is in ’n netelige posisie.
“Ek dink haar kop is met ons, maar haar hart is in die struggle-beweging. Wat sal haar vriende van so ’n stap sê? Sy word as struggle-adel beskou en het só baie bereik.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport