‘Ramp’ dreig met matrieks-vraestel
2009-12-21 07:03
Alet Rademeyer
Johannesburg - Nie eens 20% van matrikulante sal wiskunde vraestel 1 (algebra) slaag as hul punte nie aangepas word nie.
Só meen Jurg Basson, ’n wiskunde-konsultant en deeltydse dosent in wiskunde aan die Universiteit van Johannesburg (UJ).
Basson, wat die omstrede vraestel onder oë gehad het, het gister by navraag die klagtes van honderde gr. 12’s, vakonderwysers én nasieners bevestig.
Verskeie nasieners het na afloop van die nasienproses aangedui ’n “ramp” dreig met matrikulante se wiskunde-uitslae.
’n Nasiener in Mpumalanga, wat anoniem wil bly, het gesê minder sterk kandidate het uiters swak gevaar en daar is selfs van hulle wat net 2 uit 150 punte vir die vraestel behaal het.
Basson het gesê hy was baie teleurgesteld in die vraestel. Dit was te moeilik en is nie volgens die voorgeskrewe riglyne opgestel nie. Volgens die riglyne moet daar genoeg vrae op vlakke 1, 2, 3 en 4 wees.
“Dit beteken die samestelling van vrae moet sodanig wees dat daar genoeg vrae vir swakker en baie sterker leerders is.”
Daar was egter bitter min vrae op vlak 1, terwyl dit sowat 30% moet wees. “Die implikasie is dat al die swakker leerders wat ’n mens gehoop het sal deurkom, dit nie gaan maak nie.”
Hy het gesê daar sal geen ander uitweg wees as om die punte aan te pas nie.
Volgens Basson sal kandidate se prestasie nie verbeter nie tensy die kern van die probleem – onderrig van wiskunde en die gehalte van die vraestelle – nie reggestel word nie.
Hy het gesê terwyl onderwysers in topskole dalk tevrede was met die vraestel, is daar dié in landelike en townshipskole wat self nie eens die vraestel kon doen nie.
Die Burger het ná die vraestel op 6 November berig oor klagtes wat ingestroom het dat dit “uiters onbillik” en “ongelooflik moeilik” was. Briefskrywers het ook gekla.
Dr. Granville Whittle, woordvoerder van die departement van basiese onderwys, het gister gesê die departement het verslae ontvang dat die vraestel te moeilik was.
Die departement gaan volgende Maandag al die eksamenpunte aan Umalusi, die raad vir gehalteversekering in algemene onderwys en opleiding, voorlê.
Umalusi sal moet besluit of die moeilikheidsgraad regverdig was en of die punte aangepas moet word.
Prof. Kobus Maree, ’n opvoedkundige aan die Universiteit van Pretoria wat ook ’n doktorsgraad in vakdidaktiek in wiskunde het, het gesê dit sal nutteloos wees om die punte aan te pas.
“Om die punte kunsmatig aan te pas, is ’n onreg teenoor die leerders, maar ook teenoor dosente wat volgende jaar met hulle op universiteit moet werk terwyl hulle nie oor basiese vaardighede beskik nie.”
Hy het gesê die vraestel moet onafhanklik ontleed word.
Volgens Maree lyk dit of die meerderheid leerders eerder wiskundige geletterdheid moet neem omdat die huidige aanbieding van wiskunde klaarblyklik nie vir hulle voorsiening maak nie.
- Die Burger