Ramokgopa het bedank of gaan glo bedank
2010-06-30 08:25
Beeld
Daar sal glo binnekort groter sekerheid oor dr. Gwen Ramokgopa se onmiddellike toekoms wees nadat sy glo as uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metroraad bedank het of gaan bedank.
Daar was Dinsdagaand opnuut gerugte dat die hoofstad ’n nuwe eerste burger kry.
Bronne in die ANC het Dinsdagaand aan Beeld gesê daar kan vandeesweek nog ’n aankondiging wees.
Die verwagting is dat Ramokgopa na die Gautengse provinsiale regering herontplooi sal word.
Dit blyk daar is verwarring in die ANC oor Ramokgopa se beweerde bedanking.
Daar word beweer sy hét al bedank, terwyl ander kringe sê sy moet nog haar bedanking inhandig.
Die ANC het verras toe Ramokgopa op die party se onlangse provinsiale kongres in Pretoria tot Paul Mashatile, provinsiale leier, se regterhand verkies is.
Daar was voorheen hardnekkige gerugte dat sy in die Tshwane-streek in onguns verval het.
Die plaaslike ANC-tak is na bewering van plan om teen aanstaande jaar se plaaslike verkiesing ’n nuwe burgemeester in die stoel te hê.
Daar is glo by die onlangse kongres ’n kompromis tussen die Tshwane-ANC en Mashatile bereik dat Ramokgopa, ’n voormalige LUR vir gesondheid, na die provinsie herontplooi word.
Ramokgopa kon nie vir kommentaar bereik word nie; Tiny Mokwena, haar woordvoerder, het nie op ’n boodskap gereageer nie; en Console Tleane, Tshwane se kommunikasiehoof, het per SMS laat weet “niemand dra kennis (daarvan) nie”.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld