Radiostasie sê haar van ET-moord
2012-01-31 08:00
Ventersdorp. – Martie Terre’Blanche het die moordtyding oor haar man, Eugène, op 3 April 2010 gekry toe ’n radiostasie haar daaroor gebel het.
Sy het Maandag in die rondgaande hof in Ventersdorp getuig die oproep vroegaand van Radio Overvaal het juis gekom terwyl sy haar man sowat nege keer vergeefs probeer bel het.
“Ek het gesê dis ’n fout,” het me. Terre’Blanche getuig.
“Ek het dit nie geglo nie, want daar was tevore al sulke gerugte.”
Toe sy hoor hy is regtig vermoor, het sy “aan geweldige skok” gely, het me. Terre’Blanche getuig.
Sy het in ’n stadium tydens haar getuienis emosioneel geword en begin huil.
Chris Mahlangu (29) en ’n 16-jarige staan tereg op die moord. Albei het vir Terre’Blanche gewerk.
Hulle beweer hulle het hom tydens ’n loongeskil vermoor, maar me. Terre’- Blanche het getuig sy was nie bewus van enige loongeskille, verhoudingsprobleme of dat die werkers bang was vir haar man nie.
“Eugène het altyd gesê Chris het goed gewerk.”
Mahlangu het R650 per maand en die minderjarige R50 per week verdien. Me. Terre’- Blanche het getuig die werkers het gereeld by haar kom geld leen, maar dat haar man eers moes toestemming gee.
Wanneer betaaldag op ’n naweek geval het, het hy hulle eers ná die naweek betaal.
“Hulle het andersins die geld die naweek uitgedrink en wou dan Maandag dadelik weer geld leen. Die werkers was tevrede met dié reëling.”
Mahlangu was glo besope toe hy die Saterdagoggend voor die moord weer geld by haar wou kom leen, maar die AWB-leier wou nie.
“Hy het Donderdag vir Chris ’n sak vol kos gegee en gesê die werkers weet hulle word eers ná die (Paas)naweek betaal.”
Mnr. Terre’Blanche het Mahlangu later by sy dorpshuis waar hy ook as tuinwerker gewerk en ’n kamer gehad het, gaan oplaai.
’n Rukkie later het hy sy vrou gebel en gesê Mahlangu wil R200 se drank koop, en dat me. Terre’Blanche die handelaar die volgende week moes betaal.
Die AWB-leier het gesê sy vrou moet haar nie “aan ’n dronk mens steur nie” nadat Mahlangu glo die dag van die moord aan haar gesê het mnr. Terre’Blanche is op pad na Pretoria.
“Hy (Mahlangu) het twee keer per dag en soms ook in die aande uit ons huis geëet,” het me. Terre’Blanche getuig.
“Ek het hom sigarette gegee of geld daarvoor. Hy het gesê hy wil nie (goedkoper) Boxer-tabak rook nie omdat hy nie ’n bandiet is nie.”
Me. Terre’Blanche het getuig die foto’s wat aan die hof voorgehou word waar die twee beskuldigdes onder “haglike omstandighede” op die plaas gewoon het, is nie waar hulle gewoon het nie.
“Daar is ’n kamer met ’n bed en kassie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld