Radiokansel-man pleeg selfmoord
2012-01-24 09:00
Pretoria – Een van twee werknemers van Radiokansel wat ’n selfmoordpakt aangegaan het, het die naweek selfmoord gepleeg nadat die ander een nie daarmee wou voortgaan nie.
“Sorry vir almal. Ek’s klaar met die lewe, moet nie verder bel asb,” lui die laaste SMS wat Josie Raath, omroeper van Radiokansel en regisseur van dié stasie se aktualiteitsprogramme, Goeienuustyd en Spektrum, Saterdag aan sy geliefdes gestuur het voordat hy vermoedelik ’n oordosis pille gedrink het.
Raath (48), ’n depressielyer, se lyk is Sondagoggend in ’n gastehuis op Margate, KwaZulu-Natal, gevind.
Die ander lid van die pakt was Christa Petersen Johnson, dogter van dr. Roelf Petersen, uitvoerende hoof van die stasie. Sy het haar luidens ’n verklaring van Radiokansel Vrydagoggend reeds aan dié pakt onttrek.
Marthie Duvenage, kommunikasiebestuurder van Radiokansel, het Maandag in dié verklaring bevestig dat Raath en Johnson saam wou selfmoord pleeg.
“Christa (Johnson) was ’n vriendin van Raath. Gerugte bestaan dat hy haar probeer oorreed het om saam met hom selfmoord te pleeg. Sy het haar egter onttrek aan dié sameswering en verdere kontak met hom verbreek.”
Johnson wou nie Maandag kommentaar lewer nie. Sy het gesê haar werkskontrak magtig dít nie.
Raath het verlede Maandag per SMS bedank.
Volgens Duvenage het Raath geen redes vir sy bedanking verstrek nie.
Sy het gesê Radiokansel se bestuur is nog in die duister oor die ware redes vir Raath se optrede.
“Van sy kollegas en vriende meen egter dat die onlangse verbrokkeling van sy verlowing die hoofrede was,” het Duvenage gesê.
Luidens ’n berig wat Sondag in Sondag verskyn het, het Raath gesê Radiokansel “het sy liefde vir Jesus gesteel”.
Hy het sy ontevredenheid uitgespreek oor nepotisme by die stasie.
Sondag het Vrydag met Raath ’n onderhoud gevoer.
“Ek gaan my eie lewe neem. Radiokansel het die Jesus wat ek ken met nepotisme, korrupsie en skynheiligheid vernietig,” het hy luidens dié berig gesê.
Raath word oorleef deur sy drie kinders.
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld