Radebe kap Ginwala-kommissie oor Simelane
2009-11-30 16:24
Kaapstad - Jeff Radebe, minister van justisie, het Maandag die Ginwala-kommissie kritiseer vir sy "aanval" op die nuutaangestelde nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Menzi Simelane, en die Openbare Dienskommissie (ODK) omdat Simelane nie toegelaat is om sy kant van die saak te stel nie.
Radebe het tydens 'n mediakonferensie gesê die ODK se verslag oor Simelane se gedrag voor die Ginwala-kommissie het nie vir Simelane die geleentheid gegee om te verduidelik of om te reageer oor die aantygings teen hom nie.
Sy reaksie is ná die tyd deur Radebe by die ODK ingedien, maar dít is ook nie deur die ODK in ag geneem nie.
Dít beteken dat hy nie op die verslag van die ODK kon staatmaak om te oorweeg of dissiplinêre stappe teen Simelane gedoen moes word nie, het Radebe gesê.
Die aanval deur die Ginwala-kommissie op Simelane se integriteit oor hy glo nie 'n brief wat deur die voormalige minister van justisie, Brigitte Mabandla, aan die voormalige nasionale direkteur van openbare vervolging, Vusi Pikoli, gestuur is, wou bekendmaak nie, is ook ongegrond.
Die Ginwala-kommissie was in besit van 'n brief voor Simelane sy getuienis bekendgemaak het en is nie deur Simelane se getuienis mislei nie.
– Sapa