Rade mag nie krag, water afsny
2010-03-14 06:58
Johan Eybers, Rapport.
Johannesburg - Die landdroshowe in Kroonstad en Phalaborwa het die afgelope week in twee afsonderlike sake munisipaliteite verbied om die water- en elektrisiteitsvoorsiening af te sny van inwoners wat hul erfbelasting weerhou.
In albei sake het die howe ook bevind dat munisipaliteite geen geregtelike stappe mag doen nie waar grondeienaars met ’n munisipaliteit in ’n geskil is.
Die howe het ook beveel dat stadsrade nie die water- en kragtoevoer mag afsny van belastingbetalers wie se erfbelasting agterstallig is nie.
Jaap Kelder, voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU), sê die “waterskeidingsuitsprake” toon dat die inwoners van die 24 dorpe landwyd wat hul munisipale gelde weerhou, rustig kan slaap omdat hul optrede wettig is.
Sicelo Shiceka, minister van koöperatiewe regering, waarsku egter dat die NBU se lede hul munisipaliteite ondermyn en dat parallelle regerings onwettig is.
Dié belastingbetalers gaan hulle in hofsake vasloop wat hulle baie geld gaan kos, sê Shiceka.
Die griewe van wit inwoners wat erfbelasting en dienstegeld weerhou, is net so geldig soos dié van swart inwoners wat teen swak dienslewering betoog, het Yunus Carrim, Shiceka se adjunk, Vrydag aan Rapport gesê.
Die optrede van wit én swart gemeenskappe mag onwettig wees, sê Carrim, maar hy aanvaar dat dit uit noodweer gedoen word.
“Ons is heeltemal bewus daarvan dat hulle genoeg gehad het van swak dienslewering en dat daar nie aandag aan hul klagtes gegee word nie.”
Carrim sê die nasionale regering verwag dat munisipaliteite eerder versoenend is en met gemeenskappe onderhandel as om te baklei.
Regskenners verskil egter oor wanbetaling.
Adv. Paul Hoffmann SC, direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, sê hy stem saam met Kelder dat inwoners geregtig is om munisipale geld te weerhou wanneer hulle geen dienste ontvang nie.
Die NBU beroep hom op die regsbeginsel dat wanneer iemand na iemand anders se belange moet omsien en nie sy verantwoordelikheid nakom nie, die party wat te na gekom word, die geld kan gebruik om dít te doen wat die ander party nalaat om self te doen, sê Hoffmann.
Len Dekker, ’n kenner van munisipale reg, stem nie saam nie.
Hy sê die NBU probeer privaatregtelike beginsels toepas, terwyl die verhouding tussen munisipaliteite en belastingbetalers onder die publieke reg val.
“Om jou munisipale gelde te weerhou kan net soos gewelddadige optogte teen nie-dienslewering ’n doeltreffende manier wees om jou frustrasies te lug. Maar jy oortree steeds die wet, want jy ondermyn ’n regering wat demokraties verkies is,” sê Dekker.
Die hofuitsprake ten gunste van belastingbetalers wat hul munisipale gelde weerhou, is ook gegrond in tegniese redes en nie in die verdienste van die saak nie, sê Dekker.
“In hofsake waar munisipaliteite die regte prosedures volg en belastingbetalers hul munisipale gelde weerhou, gaan belastingbetalers ver- loor,” waarsku Dekker.
Prof. Christopher Whittle, kenner in plaaslikeregeringsbestuur aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie, sê daar is geen voorsiening in munisipale wetgewing vir die onthouding van belastinggeld of vir alternatiewe regerings nie, selfs al word dienste nie gelewer nie.
Hy sê al lewer inwoners ’n diens vir die munisipaliteit uit noodweer, het hulle steeds ’n burgerlike plig om dienstegeld en erfbelasting te betaal.
Prof. Deon Scott van Unisa waarsku dat belastingbetalers wat die wet só oortree nie hul eiendom sal kan verkoop nie omdat stadsrade klaringsertifikate weerhou totdat alle agterstallige geld betaal is.
- Sapa