Ractliffe-saak uitgestel
2010-10-27 11:08
Johannesburg - Die saak teen Jeremy Ractliffe, 'n voormalige trustee van die Nelson Mandela-kinderfonds, is Woensdag uitgestel.
Ractliffe staan tereg op aanklagte wat verband hou met die besit van ongeslypte diamante en is uit op 'n waarskuwing.
Hy word verteenwoordig deur Mandela se voormalige regsverteenwoordiger, George Bizos.
Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het gesê die staat beskou Ractliffe nie as 'n vlugrisiko nie en het dus nie gedruk vir borgtog nie.
Die saak is in die Alexandra-landdroshof, voorheen die Wynberg-landdroshof, is uitgestel tot 2 Maart 2011 wanneer die verhoor begin.
Ractliffe het in Augustus uit sy posisie by die Nelson Mandela-kinderfonds bedank nadat dit aan die lig gekom het dat hy drie ongeslypte diamante van die supermodel Naomi Campbell in 1997 ontvang het. Hy was toe die uitvoerende hoof van die fonds.
Hy het die raad om verskoning gevra vir die "moontlike risiko van hul reputasie" wat sy gedrag veroorsaak het. Hy het gesê hy het ook besef hy het homself oopgestel vir moontlike vervolging.
'n Persoon wat ongeslypte diamante sonder 'n lisensie in sy besit het, kan tot 10 jaar tronkstraf, 'n boete van R250 000 of albei gevonnis word.
Ractliffe is vroeër deur Campbell uitgewys tydens haar getuienis in die verhoor van die voormalige Liberiese leier, Charles Taylor.
Daar word beweer dat Taylor 13 jaar gelede drie ongeslypte diamante aan Campbell gegee het. Sy het dit glo toe vir Ractliffe gegee.
Terwyl Campbell in Den Haag getuig het, het Ractliffe die ontvangs van die diamante erken en die diamante aan die polisie oorhandig.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA