'Raak ontslae van Malema,' sê ANC se aanklaers
2012-02-17 10:00
Kaapstad – Aanklaers van die ANC sê Julius Malema moet permanent uit die regerende party geskors word, lui berigte.
Eyewitness News en die SABC het oor dié inligting berig ná die verhoor rakende Malema se skorsing uit die ANC, wat na bewering tot middernag geduur het.
Malema, sy woordvoerder, Floyd Shivambu, Sandiso Magaqa (sekretarisgeneraal van die ANCYL), Pule Mabe (tesouriergeneraal) en die adjunk-sekretarisgeneraal, Kenetswe Mosenogi, is in November daaraan skuldig bevind dat hulle verdeeldheid in die ANC gesaai en die party in oneer gebring het.
Malema is vir vyf jaar geskors en Shivambu vir drie jaar. Magaqa is ‘n skorsing van 18 maande opgelê.
Malema en die ander leiers van die ACNYL se appèl teen hul skorsing het vroeër vandeesmaand misluk.
Die ANCYL het Woensdag gesê die ANC kan nié Malema skors nie; net die jeugliga kan.
Volg Nuus24 op Twitter