Raaiseldood op Tafelberg
2009-12-11 06:55
Aldi Schoeman
Kaapstad - Die erg ontbinde lyk van ’n onbekende persoon, vermoedelik ’n man, wat in raaiselagtige omstandighede op ’n rotslys teen Tafelberg beland het, is gisteroggend van die berg verwyder.
Die persoon het vermoedelik van die toeristegebied bo-op Tafelberg geval na die rotslys waarop die lyk gevind is, het Roy White, bestuurder van Wildernis-soek-en-redding, gister gesê.
Paddy Gordon, noordelike areabestuurder van die Tafelberg Nasionale Park, het gesê die persoon het moontlik geval nadat hy van ’n voetslaanpad afgedwaal het of moontlik sonder toerusting geklim het.
Nie die Kaapstad-polisiekantoor, Tafelberg Nasionale Park of Wildernis-soek-en-redding weet van enigiemand wat beslis op Tafelberg vermis geraak het, daarna as vermis aangemeld is en nié gevind is nie.
Supt. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê daar is ook geen inligting wat toon buitelanders het iemand as vermis aangemeld nie.
’n Klimmer het Woensdagmiddag op die lyk afgekom wat sowat 80 m onder die toeriste-area op die Afrika-rotslys, op dié deel van die berg wat die Afrika-gesig genoem word, gelê het.
Weens veiligheidsredes het die reddingspan eers gisteroggend om 06:00 begin met die poging om die lyk te verwyder.
’n Voorlopige raming is dat die lyk al ongeveer twee maande lank daar lê, het White gesê.
Volgens White kan dié rotslys net op een van twee maniere bereik word: óf ’n mens klim met klimtoerusting tot daar óf jy beland daar nadat jy geval het.
“Hy was nie ’n klimmer nie, want hy het gewone klere gedra en nie klimtoerusting gehad nie,” het White gesê.
“Hy was ook nie soos ’n hawelose mens aangetrek nie,” het hy bygevoeg.
“Dit is ongelooflik dat niemand die lyk vroeër gesien het nie, want (die gebied) word gereeld deur klimmers besoek.”
Gordon het gesê dit is vermoedelik omdat die lyk tussen bosse was dat niemand dit vroeër gesien het nie.
Baie mense dwaal op die berg van die voetslaanpaaie af en beland op plekke waar hulle nie sonder hulp kan uitkom nie, het Gordon bygevoeg.
Die polisie kon nog nie as gevolg van die erge ontbinding die oorledene se geslag bevestig nie, het supt. Randall Stoffels, woordvoerder van die Kaapstadse polisiekantoor, gesê.
’n Nadoodse ondersoek sal waarskynlik die geslag asook die oorsaak en geraamde tyd van afsterwe bepaal.
’n Geregtelike doodsondersoek word ook gedoen.
“Geen misdaad word in dié stadium vermoed nie.”
White het gesê dit gebeur minder as een keer per jaar dat ’n lyk toevallig op Tafelberg gevind word sonder dat ’n reddingspan ontbied is.
Gordon het sy meegevoel met die familie van die oorledene betuig.
- Die Burger