Raaisel oor vermiste man verdiep
2012-01-13 06:51
Bloemfontein – Die raaisel om die verdwyning van ’n bejaarde man van Witbank het Donderdag dramaties verdiep toe sy skoonseun se lyk in die Vaalrivier by Barkly-Wes gekry is.
Alles dui daarop dat Douglas Simpson (47), wie se lyk gister uit die rivier gehaal is, agter die verdwyning van sy skoonpa, Peet Theron (72), gesit het.
Theron is kort voor Kersfees die laaste keer gesien.
Sy skoonseun het ’n kluis met onder meer ’n 9 mm-pistool uit Theron se huis gesteel.
Simpson het kort ná Theron se verdwyning op sy dogter, Denitte (14), se verjaardag padgegee.
Hy het vroeër vandeesweek met sy vrou, Debbie Simpson, en dogter kontak gemaak om te sê hy gaan selfmoord pleeg.
“Die ergste is ek het nog geen uitsluitsel gekry oor waar my pa is nie,” sê mev. Simpson.
Sy sê haar man was ’n lafaard. “Hy het geweet die polisie gaan hom toesluit as hulle hom kry.”
Leon Rossouw, ’n private speurder, is aangestel om Theron te vind en het eers sy skoonseun se spoor gevolg.
Rossouw het Woensdag op mnr. Simpson se motor in ’n verlate woonwapark by Barkly-Wes afgekom.
Dit het vervalste nommerplate opgehad en die sleutel was steeds daarin. In die bagasiebak is stewels, gereedskap en ’n 9mm-patroon gevind. Die kluis en vuurwapen is nog soek.
Rossouw en polisielede van die honde-eenheid in Kimberley het deurnag gewerk en gistermiddag mnr. Simpson se lyk naby ’n brug in die rivier gevind.
“Dit is sowat 400 m van waar die motor was.”
Hy het oënskynlik geen uitwendige beserings gehad nie.
Mev. Simpson sê sy en haar man was besig om te skei. Sy en haar dogter het op 15 Desember uit hul huis in Witbank getrek, want sy kon weens haar man se drank- en dwelmprobleem nie meer met hom saamleef nie.
Op 21 Desember het mnr. Simpson sy skoonpa van die aftreeoord Edenpark gebel en gevra om hom by die Wimpy in Witbank te ontmoet.
Volgens beeldmateriaal van veiligheidskameras het Theron die restaurant binnegekom, rondgekyk en toe weer uitgestap. Hierna is hy nie weer gesien nie.
Nadat mev. Simpson haar man oor haar pa se verdwyning gekonfronteer het, het hy op 23 Desember, op sy dogter se verjaardag, ook verdwyn.
Mnr. Simpson het sy vrou Maandagaand gebel. Hy het haar gegroet en gesê hy gaan selfmoord pleeg. “Hy het erken hy het die vuurwapen gesteel, maar gesê hy het niks met my pa se verdwyning te doen nie.”
Die volgende oggend het hy ’n selfoonboodskap aan sy dogter gestuur en gesê hy is jammer, maar hy kan nie sonder haar ma lewe nie.
Rossouw sê die ondersoek na Theron se verdwyning duur voort. Enigiemand met inligting kan hom by 083-410-0900 bel.

Peet Theron
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad