Raadslid steeds vermis
2009-08-03 13:38
Pretoria- Die Ekurhuleni metropolitaanse munisipaliteit het die publiek gevra om te help met 'n soektog na ‘n 43 jarige raadslid wat twee weke gelede vermis geraak het.
Volgens die munisipaliteit het Mkhonzeni Gregory Mbethe, ‘n raadslid van Etwatwa-oos, op 22 Julie vanjaar vermis geraak ná hy sy huis verlaat het om geld by ‘n bank in Benoni te gaan trek.
"Mbethe is nog nie weer gesien nie, sy selfoon is afgeskakel en ons kry hom nie in die hande nie”, het Zweli Dlamini, ‘n woordvoerder in ‘n verklaring gesê.
Volgens Dlamini vermoed polisie dat verdagte transaksies vanuit Mbethe se bankrekening gemaak is, op die dag wat hy vermis geraak het.
Satchmo Mxabangeli, ‘n vriend en verteenwoordiger van Mbethe se familie het gesê hulle het by nabygeleë polisiestasies en hospitale gesoek, maar sonder enige sukses.
-Sapa