Raadslid se saak uitgestel
2011-08-29 17:41
Johannesburg – ‘n Saak van aanranding teen ‘n munisipale raadslid van Pretoria en nege ander mense is Maandag in die Moretele-landdroshof uitgestel, het die polisie in Gauteng gesê.
Geroge Matjila (37) en sy mede-ANC-lede is vrygelaat op waarskuwing, het kapt. Pinky Tsinyane gesê. Die saak is tot 30 September uitgestel vir verdere ondersoek.
Matjila is Sondag in hegtenis geneem en van aanranding aangekla. Hy is ‘n lid van die burgemeesterskomitee vir paaie en vervoer vir die Stad Tshwane.
Die voorval het Saterdag tydens ‘n vergadering in Hammanskraal, Pretoria, plaasgevind.
Luidens mediaberigte het Matjila ‘n wyksvergadering gereël sonder om al die ANC-lede op die plaaslike wykskomitee daarvan in te lig. Die vergadering was daarop gemik om nuwe leiers vir wyk 95 te verkies.
‘n Gewelddadige geveg het uitgebreek toe die ongenooide gaste opgedaag en die verrigtinge ontwrig het voordat belangrike besluite geneem kon word.
Verskeie lede van die regerende party is na bewering deur Matjila en sy ondersteuners aangerand.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA