R908 milj. vir armes se huise spoorloos
2011-06-17 08:22
Noordwes – Munisipaliteite in Noordwes kan nie rekenskap gee van R908 miljoen wat die afgelope tien jaar aan hulle oorbetaal is om laekostebehuising op te rig nie.
Noordwes se departement van menslike nedersettings finaliseer nou oudits van dié R908 miljoen, het Desbo Mohono, die departement se LUR, vandeesweek aan die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), gesê.
Luidens ’n persverklaring wat haar departement uitgereik het, het baie behuisingsprojekte in die provinsie tot stilstand gekom omdat geld wat aan munisipaliteite voorgeskiet is vir behuisingsprojekte gebruik is om onder meer salarisse te betaal.
Mohono se departement doen nou in samewerking met onder andere die ouditeur-generaal ’n ondersoek om uit te vind hoe die R908 miljoen bestee is.
“Tydens die ondersoek kon die departement wel (voorlopig) rekenskap kry van hoe meer as R400 miljoen van die totale bedrag bestee is,” het Lesiba Kgwele, departementele woordvoerder, gesê.
Mohono het aan Skoor gesê munisipaliteite in Noordwes sal voortaan nie meer voorskotte vir behuisingsprojekte kry nie.
“Ons gaan bestaande kontrakte wat op dié grondslag funksioneer, kanselleer en self oorneem,” het Mohono gesê.
Kontrakteurs sal nou betaal word wanneer die werk klaar is en hulle ’n eis daarvoor ingedien het.
John Franzsen, DA-LPW, het gesê die voorskotte word in een munisipale rekening betaal. “Wanneer munisipaliteite dan aan die einde van die maand nie geld oor het om salarisse te betaal nie, word geld wat vir behuising voorgeskiet is, gebruik. As dit maand ná maand gebeur, kan hulle naderhand nie meer kontrakteurs betaal nie.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld