R9 m.-eis ná knou in rugby
2011-11-02 09:05
Kaapstad. – ’n Rugbyspeler wat as tiener in ’n wedstryd vir senior spanne beseer is, eis R9 miljoen van onder meer die Suid-Afrikaanse Rugby-unie.
Charles Oppelt (26) dagvaar Saru, die Boland-rugbyunie, die Mamre-rugbyklub en die departement van gesondheid. Hy is in 2002 beseer toe hy 17 jaar oud was. Hy was lid van die Mamre-rugbyklub se eerste span en het in ’n wedstryd in ’n vaste skrum ’n besering aan die rugmurg opgedoen. Hy is nou in ’n rolstoel.
Luidens hofstukke is hy op 23 Maart 2002 gekies om as haker te speel. Hy was toe 1,65 m lank en het 60 kg geweeg.
Hy voer aan hy was nie “fisiek geskik” of voorbereid vir ’n voorry-posisie in ’n senior span nie. Hy voer aan dat Saru, die Boland-rugby-unie en die Mamre-rugbyklub moes verseker het dat hy nie die gevaar van ’n besering in ’n wedstryd geloop het nie.
André Watson, bestuurder van skeidsregtersake van Saru, het Dinsdag getuig dat veiligheid van kardinale belang vir skeidsregters is.
In kruisondervraging het adv. Willie Duminy SC, vir Oppelt, dit aan Watson gestel dat die rugbyreëls nie onvoorwaardelik is nie.
“Baie van die reëls verg die betrokke skeidsregter se oordeel.”
Watson het geantwoord: “Ek sou sê die reëls is redelik ‘wit of swart’.”
Duminy het Watson gevra oor die rol wat skeidsregters moet speel om te verseker dat spelers in die voorry “die vermoë het” en na behore opgelei is om in dié posisie te speel.
Watson het geantwoord: “Ek sien nie hoe ons (die skeidsregters) voor ’n wedstryd so ’n besluit kan neem nie.”
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger