R850 m. van die staat se geld verkwis
2012-01-18 08:00
Johannesburg – Altesame 69% van provinsiale staatsdepartemente landwyd pas nie-mededingende of onbillike aankoopbestuur toe en 35% ken kontrakte aan staatsamptenare of familielede toe.
Dít blyk uit die ouditeur-generaal (OG) se gekonsolideerde verslag oor die provinsies se oudits vir die 2010-’11-boekjaar.
Luidens die verslag het provinsiale departemente in die boekjaar onreëlmatige uitgawes van R16,2 miljard aangegaan.
Dié uitgawes is hoofsaaklik te wyte aan die oortreding van wetgewing oor aankoopbestuur.
Onreëlmatige uitgawes van R11,7 miljard hou verband met aankoopbestuur.
Die OG het voorts bevind 36% van departemente se beheer is onvoldoende.
Mnr. Terence Nombembe, die OG, het gewaarsku die regering sal baie meer moet doen om ’n regverdige, gelyke, deursigtige, mededingende en kostedoeltreffende aankoopbestuurskultuur te vestig.
Dit is volgens hom een van die vernaamste struikelblokke wat tussen departemente en skoon oudits staan.
Onreëlmatige besteding het luidens die verslag met 58% toegeneem in vergelyking met die vorige jaar.
Daar was ook ’n 70%-toename in verkwiste uitgawes in departemente en openbare entiteite.
Dit het tot R850 miljoen toegeneem.
In die Vrystaat het 42% van die provinsiale departemente in afgelope boekjaar tenders aan ander staatsamptenare of familielede toegeken, gevolg deur die Oos-Kaap en Limpopo (albei 28%) en KwaZulu-Natal (26%).
Die OG het bevind 88% van die aankoopprosesse in die Noord-Kaap was nie-mededingend of onbillik.
Noordwes (78%) is tweede op die lys.
Nombembe het gesê om gereeld skoon oudits te kry, sal die regering administrateurs met toepaslike vaardighede as departementshoofde en finansiële hoofde moet aanstel.
Nog ’n tekortkoming is ervare interne ouditeurs en ouditkomitees wat geloofwaardige inligting weer in oënskou kan neem en dit objektief by die leierskorps kan aanmeld, lui die verslag.
Vakbonde het die verslag Dinsdag as ’n krisis en ’n skande bestempel.
Die vakverbond Fedusa het gesê die regering pluk die vrugte van sy kaderontplooiingsbeleid.
“Kaderontplooiing, aanstellings op grond van affiliasie en grootskaalse nepotisme, pleks daarvan om op vaardighede en verdienste te fokus, het departemente en staatsentiteite in middelmatige instellings en politieke speelvelde omskep,” het Fedusa in ’n verklaring gesê.
Die vakbond Nehawu het gesê Suid-Afrikaners verdien beter en het nie meer geduld met die regering nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld