King-skema: R600 miljoen skoonveld
2010-10-22 09:05
Wellington - Beleggers in die gesneuwelde King-beleggingsgroep kan álles verloor van die meer as R1miljard wat met huis- en broodgeld in die drie King-broers se skema belê is.
Die openbare ondervraging deur likwidateurs van onder andere Adrian King, een van die King-broers, het Donderdag vir een skok na die ander in die landdroshof hier gesorg.
Adrian King, wat probeer weghardloop het vir Die Burger se fotograaf, se getuienis is tot 2 Desember uitgestel omdat hy in die teenwoordigheid van ’n prokureur wil praat.
Adv. Almero de Villiers, wat die ondervraging behartig, het aangevoer een van die tergende vrae bly steeds wat van R500miljoen tot R600miljoen se beleggingsgeld geword het van die meer as R1miljard wat by die Kings belê is.
Een van die makelaars, me. Ingrid van Aardt van Bloemfontein, wat van 2005 tot Mei 2009 produkte van die King-groep bemark het, het getuig dit blyk uit die verslae van die likwidateurs dat “kliënte alles gaan verloor”. Sy het getuig dat sy self R1,4miljoen verloor het.
Op ’n vraag van De Villiers wat die gevolg hiervan is, het Van Aardt net stilgebly en begin huil.
“My ma was ’n slagoffer van Masterbond. Voordat ek met die Kings begin saamwerk het, het ek gevra of dit nóg ’n Masterbond is.”
Teen einde 2008, begin 2009 het Van Aardt onraad vermoed. Die King-geld is nie meer uitbetaal nie. “As ons Adrian, Paul of Stephen King hieroor gevra het, het hulle net gesê dit is die ekonomie.”
Dié agent het ook getuig dat Adrian King “met geur en baie groot smaak” vertel het hoe die King-familie, die King-kinders en al die kinders se vriende in 2008 in Frankryk gaan vakansie hou het.
“Ek wil weet wie het dit betaal. Mý geld lê daarin.”
Van Aardt het getuig hoe sy die eerste keer van die probleme met die King-groep in die koerant gelees het en hoe sy inmekaargesak het en steeds daardie skok in haar liggaam voel. Sy het die King-broers gekonfronteer, waarna hulle geantwoord het “die geld is alles in die grond”.
“Ek het gesê Masterbond het bloed aan hul hande gehad. Ek het gesê daar het baie mense selfmoord gepleeg. Stephen King het gesê hy kan nie daarvoor verantwoordelikheid neem nie, en ’n maand daarna het sy broer (dr. Paul King) selfmoord gepleeg.”
’n Vriend van Paul King, Johan Phillip van der Merwe, het op sy beurt getuig hoe hy deel was van die geselskap wat na Paul King gesoek het. Hy het genoem dat ’n selfmoordbrief by King se lyk in sy bakkie gekry is en dat dit sy tweede selfmoordpoging was.
Paul King het met sy eerste selfmoordpoging hom in sy huis probeer vergas in ’n kamertjie waar gasbottels geberg is, het Van der Merwe getuig. Hy is egter betyds opgespoor.
Die ondervragings word op 2 Desember hervat.
- Die Burger