R43 miljoen se vervalste rugbytruie gevind
2011-08-18 16:55
Johannesburg – Beslag is op duisende vervalste rugbytruie met ‘n geskatte straatwaarde van sowat R43 miljoen gelê in Johannesburg, het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) Donderdag gesê.
Anton Fisher, woordvoerder, het gesê 66 000 truie is vroeër vandeesweek in ‘n houer in Cleveland gevind deur die polisie en doeanebeamptes.
“Die Suid-Afrikaanse Rugbytruie was reeds gereed om na ‘n bekende kettingwinkel wat in sportklere spesialiseer, te gaan. Die truie sou teen R599,59 per trui verkoop word,” het hy gesê.
Volgens Fisher is die goedere op valse wyse as winkelpoppe verklaar. ‘n Man is in hegtenis geneem en word daarvan aangekla dat hy ‘n valse verklaring afgelê het.
Met die rugbywêreldbeker wat voorlê, het SARS verwag om ‘n toename in vervalste goedere te sien, nes verlede jaar voor die sokkerwêreldbeker gebeur het, het Fisher gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA