R30 m. per jaar vir premier se blitslyn
2012-02-03 09:04
Johannesburg – Die Gautengse premier se splinternuwe blitslyn gaan belastingbetalers R30 miljoen per jaar uit die sak uit jaag.
Dit is heelwat meer as pres. Jacob Zuma se blitslyn wat in 2009 bekend gestel is teen ’n begroting van R4 miljoen per jaar.
Nomvula Mokonyane het Donderdag in Soweto gesê die meeste probleme wat by die presidensiële hulplyn aangemeld is, was van inwoners van Gauteng en die provinsiale regering het daarom besluit om sy eie hulplyn op die been te bring.
“Ons wil hê mense moet vertroue in die regering hê, dis nie ’n teken van ’n krisis nie.”
Die oproepsentrum word deur 70 personeellede beman wat inbellers in al 11 nasionale tale bedien.
Oproepe word van 07:00 tot 22:00 beantwoord en personeellede moet binne drie dae aan die inbeller terugvoering gee oor die klagte.
“Dit gaan nie ’n geval wees waar ons besonderhede neem en nooit terug kom met ’n antwoord nie.”
Die premier het verlede jaar in Maart ’n maand lange proeflopie gedoen waartydens 95 000 oproepe geneem is. Al dié probleme is glo uitgeklaar.
Zuma se blitslyn loop dikwels onder kritiek deur omdat oproepe nie vinnig genoeg beantwoord word nie en opposisiepartye het dit al dikwels as “’n mors van geld” bestempel.
Joe McGluwa, DA-woordvoerder oor die presidensie, was Donderdag skepties oor Mokonyane se inisiatief.
“Wat my betref, is hierdie ook net ’n mors van geld.
“Dit is net nóg ’n poging om werk te skep vir die regering se pelle.”
Die hulplynnommer is 0860 428 8364, die faksnommer 011 429 3222 en die e-posadres is hotline@gauteng.gov.za.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld